CALITZDORP NUUS - Die veghond-aanval op Isabella Davids (32) in Augustus vanjaar, wat byna haar lewe geëis het, spook steeds daagliks by haar.
Davids se beserings was so erg dat sy vanaf George-hospitaal na Grootte Schuur-hospitaal in Kaapstad oorgeplaas moes word.
Hier moes die dokters vel van haar boude verkry en op haar kop oorplant.
"Sy kan nou glad nie na ons kindjie omsien nie. Sy ruk saans in haar slaap soos wat sy weer die aanval in haar nagmerries herleef," vertel Hendrik Conradie, haar saamleefmaat.
'n Verslae en duidelik geskokte Davids vertel: "Al wat ek weet is dat die hond my aangeval het. Toe ek my oë weer oopmaak toe lê ek op 'n bed in die George-hospitaal. Al wat die verpleegsters vir my gesê het is dat ek bly kan wees ek leef nog. My kopvel is afgeskeur en stukke vleis is uit my boude en bene weg."
Davids sê dat sy voor die grusame voorval R480 per week verdien het, maar weens haar beserings kan sy nie werk nie en is dus sonder 'n inkomste.
"Ons wag nog op sosiale dienste om moontlike berading te verskaf, maar hier was nog niemand by my om my berading te gee nie. Die nagmerries snags is nou die ergste. Dan sien ek weer hoe daai hond op my afpyl. Ek kan nie saans slaap nie. Ek kan nie meer nie," het Davids gesê.
Departement sosiale omwikkeling het intussen onderneem om berading aan Davids te verskaf.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Karoo nuus'