OUDTSHOORN NUUS - Doen jou huiswerk, neem eienaarskap van jou boek en maak seker jy kry kundige mense om jou boek op die rak te kry. Dit is Tania Smit, skrywer en sakevrou, se boodskap aan skrywers en digters wat van voorneme is om te publiseer.
Smit het twee boeke, Hekelwoorde van my hart (2018) en Heelword (2020) self gepubliseer en reeds 'n paar duisend kopieë verkoop.
Volgens haar is dit hartseer dat aspirantskrywers dikwels manuskripte toevertrou aan "uitgewers" wat werklik nie hulle sout werd is nie.
"Mense betaal 'n aardige bedrag om 'n boek in die hand te hou, maar dan is die eindproduk uiters swak uitgelê en vol foute."
Sy sê dat skrywers eintlik ook sakemense moet wees. "Bitter min klein uitgewers of instansies wat jou help met selfpublikasie, bemoei hulle ook met die bemarking van jou boek. Dit is iets wat jy self moet doen en jy kan dit net met oorgawe doen as jy weet jou boek is 'n puik produk."
In haar geval het sy deur die bank van professionele mense gebruik gemaak. "Ek het elke stap aan 'n persoon met goeie verwysings en ervaring toevertrou. Ek het 'n taalversorger betaal, ek het 'n uitlegkunstenaar betaal, ek het 'n professionele kunstenaar se werk as illustrasies gebruik en dan het ek self elke boek seker nog tien keer deurgelees, voordat dit gedruk is."
In gesprekke met skrywers en digters is dit duidelik dat sommige tot 'n mate spyt is dat hulle oorhaastig was om 'n boek op die rak te kry en met volgende projekte eerder na verskillende opsies sal kyk. Smit beaam dit.
"Ek dink mense is so opgewonde as 'n sogenaamde uitgewer hulle manuskrip aanvaar, dat hulle nie die groter prentjie sien nie. Selfs klein uitgewers moet 'n keuringsproses volg. Sommige aanvaar absoluut enigiets wat aan hulle voorgelê word."
Sy wys daarop dat die skrywer se rol veel groter is as om bloot te skryf. Skrywers en digters moet volgens haar uiters krities oor hulle eie werk wees en daarvan bewus wees dat sommige instansies en selfpublikasie-uitgewers nie die kennis en vermoë het om byvoorbeeld goeie redigeerwerk en manuskripontwikkeling te doen nie.
"As skrywer moet jy seker maak dat jou manuskrip deur 'n kundige taalversorger en redigeerder se hande gaan, voordat jy dit aan iemand voorlê vir uitleg, ontwerp en drukwerk. Dit is 'n duur proses en daar is geen kortpaaie nie," waarsku sy.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'