Update
OUDTSHOORN NUUS - Burgemeester Chris Macpherson het Maandag 'n dringende vergadering gehad met die seniorpersoneel van die afdeling strate en stormwater, water en sanitasie sowel as reinigingsdienste om die krisis van slaggate aan te spreek.
Tydens dié vergadering is daar besluit om met die verloop van die volgende drie weke, addisionele mannekrag en voertuie van ander departemente in te span om die groot aantal slaggate as prioriteit te hanteer.
"Die normale program om gedeeltes van strate soos byvoorbeeld Parkweg te herstel, moet voortgaan, maar die aantal slaggate wat na die afgelope maand se swaar reën oral voorkom, moet dringend aandag kry," het die burgemeester verduidelik.
Macpherson het beklemtoon dat alle beskikbare mannekrag die volgende drie weke ingespan moet word om tien kleiner spanne te ontplooi wat net op slaggate gaan fokus. Daar sal van die spanne verwag word om selfs na-ure en op Saterdae te werk om die krisis te hanteer.
"Daar word 'n beroep op motoriste gedoen om geduldig te wees en versigtig te bestuur in gedeeltes waar werkers besig is aangesien spanne klein is om op meer plekke ontplooi te word. Daar word eers op slaggate op die hoofroetes gefokus asook by besige kruisings. Daarna sal spanne aan strate in die onderskeie woongebiede begin werk."
Macpherson het sy waardering uitgespreek teenoor die werknemers vir hulle positiewe gesindheid en bereidwilligheid om die krisis te help verlig.
"Ons het begrip vir inwoners se frustrasies, maar ons vra ook dat inwoners begrip moet hê vir die geweldige invloed wat die oormatige reën te weeg gebring het. Ek is trots op die reaksie van ons werknemers om in te spring en meer te doen as wat van hulle verwag word. Baie dankie daarvoor."
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’