Update
OUDTSHOORN NUUS - Die inisiatief van die burgemeester, Chris Macpherson, waarin inwoners die geleentheid kry om die slaggate in woongebiede reg te maak is die week met gemengde gevoelens begroet.
Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat die munisipaliteit talle versoeke van inwoners gekry het om self slaggate te vul.
Macpherson het gesê dat die munisipaliteit nie oor die kapasiteit beskik om al die slaggate self te vul nie, en inwoners aangemoedig om eienaarskap van hul eie strate te neem en die slaggate self te vul.
Vele inwoners was egter nie te vinde vir dié idee nie, en het op sosiale media te velde getrek. Baie inwoners is van mening dat hul belastinggeld voldoende moet wees en dat dit die munisipaliteit se werk is om self die gate te vul.
Oudtshoorn Courant het die week egter met inwoners gepraat wat reeds hul sakkies teer gekoop het. Hulle wou nie hul name genoem hê nie.
Een van die inwoners het gesê dat die gate skade aan sy voertuig veroorsaak en deur die slaggate self te vul hy homself en sy bure geld kan spaar.
'n Ander inwoner meen dat sy huis sy grootste bate is en dat hy wil hê dit moet netjies lyk voor sy huis.
"As ek R90 moet betaal om dit te doen, dan doen ek dit. Ek dink ook dat ons genoeg belasting betaal vir die munisipaliteit om dit self te herstel, maar ons weet dit gaan nie gebeur nie."
Volgens Hannes Visser, Macpherson se woordvoerder, is die burgemeester baie tevrede met die terugvoer wat hy persoonlik van mense ontvang het.
"Dit is ongelukkig so dat mense graag sosiale media gebruik vir negatiewe terugvoer, maar daar word aanvaar dat dit deel is van mense se frustrasies in die algemeen. Die positiewe deel is egter die aantal mense wat reeds aangedui het dat hulle 'n verskil wil maak en verwysingsnommers aangevra het om slaggate te herstel. Baie dankie aan diegene wat op hierdie manier hande vat om die dorp onder uitdagende omstandighede vorentoe te neem."
Hy het verder gesê dat die burgemeester dit benadruk dat daar geen verpligting op enigiemand is om aan die projek deel te neem nie.
"Dit is egter landwyd bewys dat dorpe waar gemeenskappe betrokke raak, vinniger vooruit gaan as dorpe waar gemeenskappe onbetrokke is."
"Dit is ongelukkig so dat die munisipaliteit nie by al die slaggate kan uitkom nie. Die swaar reën wat ons die afgelope ruk gehad het, het ook bygedra, veral omdat ons nie die paaie kan regmaak as dit aanhou reën en nat is nie. Ons het dit dus goed gedink om inwoners die geleentheid te gee om self slaggate in hul eie woonbuurte reg te maak."
Volgens hom het die munisipaliteit met Van der Berg Vervoer en Johan Scholtz van Dense Seal, 'n ooreenkoms dat inwoners wat aan die projek wil deelneem die sakke Pothole Repair Mix teen R90 'n sak kan koop.
Vorige artikel: Slaggat-inisiatief deur burgemeester begin
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’