OUDTSHOORN NUUS - Die burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Chris Macpherson, het die week inwoners aangemoedig om eienaarskap van hul eie strate te neem en self slaggate te vul.
Volgens hom het hy al talle versoeke van inwoners gekry om self slaggate te vul en het hulle besluit om 'n slaggat-projek te begin.
"Dit is ongelukkig so dat die munisi-paliteit nie by al die slaggate kan uitkom nie. Die swaar reën wat ons die afgelope ruk gehad het, het ook bygedra, veral omdat ons nie die paaie kan regmaak as dit aanhou reën en nat is nie. Ons het dit dus goed gedink om inwoners die geleentheid te gee om self slaggate in hul eie woonbuurte reg te maak."
Volgens hom het die munisipaliteit met Van der Berg Vervoer en Johan Scholtz van Dense Seal, 'n ooreenkoms dat inwoners wat aan die projek wil deelneem die sakke Pothole Repair Mix teen R90 'n sak kan koop.
Macpherson het gesê dat hy klem wil lê op die feit dat niemand verplig is om dit te doen nie en dat dit slegs is vir slaggate in woonbuurte en dat dit slegs 'n tydelik inisiatief is.
"Die gate moet nie groter wees as twee A4-bladsye langs mekaar nie, anders gaan die Pothole Repair Mix nie werk nie."
Só gaan inwoners te werk
Die munisipaliteit het 'n tydelike Whats-App-nommer (078 802 7724) waarheen inwoners 'n boodskap kan stuur om aansoek te doen vir 'n verwysingsnommer.
Sodra die inwoner die verwysings-nommer ontvang het kan hulle die sakkie, Pothole Repair Mix gaan koop. Daar sal ook aanwysings saam gegee word oor presies watter stappe gevolg moet word om die gat te vul en watter gereedskap benodig gaan word.
Dit is slegs om die verwysingsnommer te bekom en moet nie gebruik word om ander klagtes in te dien of om slaggate aan te meld nie. Die boodskap moet jou naam en van insluit, die straat waar jy die slaggat gaan regmaak asook die datum wanneer die slaggat reggemaak gaan word. 'n Stap-vir-stap infografika sal deur die diensverskaffer aan jou gegee word, hierdie infografika sal ook op die munisipale webwerf wees.
Werk moet volgens die stap-vir-stap infografika uitgevoer word.
(Infografika en verduideliking is ook op bladsy 2 in 9 Junie se koerant).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’