Update
OUDTSHOORN NUUS- Die 42-jarige Berné Venter, wat Vrydagnag naby De Kombuis met sy Colt-bakkie oor 'n afgrond gery het, is met veelvuldige beserings na George-hospitaal oorgeplaas.
Volgens 'n familielid van Venter het hy operasies ondergaan om frakture aan sy enkel, bobeen en sleutelbeen te herstel. Sy kakebeen is ook tydens die ongeluk gebreek.
Dit blyk dat sy inwendige beserings besig is om te herstel en hy kon teen Dinsdag al iets eet.
Die grootste bron van kommer is egter 'n rugbesering wat hy tydens die ongeluk opgedoen het. Een van sy rugwerwels het met die impak van die ongeluk verbrokkel en daarvoor moet hy, sodra hy stabiel genoeg is, na Kaapstad oorgeplaas word.
Die ongeluk het Vrydagnag/Saterdagoggend waarskynlik na middernag plaasgevind terwyl Venter na sy broer se plaas aan die voet van die Swartberge onderweg was.
Sy bakkie het die pad op 'n skerp draai naby De Kombuis verlaat en ongeveer 20 meter deur die lug getrek voordat dit 'n ankerkabel van 'n telefoonpaal getref en langs 'n rivier beland het.
Die beskadigde bakkie.
Die bakkie is eers na 07:00 Saterdagoggend deur plaaswerkers opgemerk waarna hulle 'n vrou, wat op die plaas woon en op pad werk toe was, voorgekeer het om hulp te ontbied.
Venter is in die bakkie se kajuit aangetref. Die ambulans kon nie tot by die toneel ry nie en paramedici het die ernstig beseerde man gestabiliseer en op 'n draagbaar agter op die boer se viertrekvoertuig gelaai waarna hy na die wagtende ambulans geneem is.
Nadat die polisie aanvanklik nie naasbestaandes van die beseerde kon opspoor nie, het 'n familielid Saterdagmiddag deur die Oudtshoorn Courant met die polisie kontak gemaak.
Volgens polisielede en nooddienswerkers was die hulp van Boeta Schoeman van De Kombuis en sy helpers van onskatbare waarde met die vervoer van die beseerde asook met die herwinning van die bakkie.
Die bakkie word deur 'n trekker van die toneel weggesleep. Foto's: Hannes Visser
Lees vorige artikels:
- Opvolg: Beseerde bestuurder ernstig, maar stabiel
- Opvolg: Man ernstig beseer in botsing
- Man ernstig beseer in botsing
Skade aan die bakkie se stuurwiel getuig van die slag waarmee Venter se liggaam die paneelbord getref het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, KleinKaroo nuus'