OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die bestuurder van 'n silwerkleurige Colt bakkie met 'n Noordkaap-registrasienommer is vanoggend met ernstige beserings hospitaal toe na 'n botsing op die grottepad.
Die bakkie het gedurende laasnag by De Kombuis op 'n skerp draai oor die veiligheidsreling en oor 'n afgrond gery en aan die oorkant van 'n rivier beland.
Verbygangers het eers vanoggend omstreeks 07:30 die voertuig in die bosse opgemerk.
Die ernstig beseerde man is in die bakkie gevind.
Hy is op die toneel behandel en daarna op 'n draagbaar saam met paramedici op 'n boer se 4x4 bakkie gelaai en tot by die hoofpad geneem waar hy in 'n ambulans oorgelaai is.
Kyk 'n video hieronder
Sy identiteit is moontlik bevestig deur dokumente wat in die bakkie was, maar teen 13:00 vanmiddag kon die polisie nog nie enige naasbestaandes of kennisse opspoor nie.
Die bakkie is met 'n trekker gesleep tot waar die insleepdiens dit kon bereik. Die erg beskadigde bakkie is deur 'n insleepdiens in veilige bewaring geneem aangesien daar waardevolle elektriese toerusting op die bakkie was.
Dit is nie bekend hoe laat die botsing plaasgevind het nie, maar volgens beamptes op die toneel moes, dit reeds laasnag gebeur het.
Die bakkie is met 'n trekker tot by die pad gesleep.
Die stuurwiel van die bakkie is vermoedelik deur die bestuurder se bors getref en beskadig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'