Update Video
OUDTSHOORN NUUS - Inwoners en besigheidseienaars anderkant die rotsstorting by De Kombuys op die R328 tussen Oudtshoorn en die Swartberge, is desperaat en het hul nou tot 'n petisie gewend om die pad dringend oop te kry.
Volgens Leoni Fourie van Swartberg Country Manor in Matjiesrivier en Pienaar Muller, eienaar van Wilgewandel Vakansieplaas, het die sluiting van die pad katastrofiese gevolge vir toerisme en op mense se inkomste.
Oudtshoorn se burgemeester, Zoe Tyatya, het ook in 'n stemboodskap gesê die Kango-grotte wat nie bereik kan word nie, het verreikende gevolge vir toerisme en op inkomste vir die munisipaliteit. Hy het bevestig dat die oopstel van die pad hoë prioriteit geniet.
Die pad is reeds langer as 30 dae toe weens swaar reën wat 'n rotsstorting net voor De Kombuys veroorsaak het. Opvolgreën het nog rotsstortings tot gevolg gehad. Daar was voorheen reeds rotsstortings op die spesifieke plek, maar dit kon binne 'n dag of twee opgeruim word. Met die huidige rotsstorting is die situasie egter veel erger.
'n Werker besig met stabiliseringswerk by een van die ander rotsstortings sowat 'n kilometer voor die groot rotsstorting by De Kombuys. Foto: Hannes Visser
Petisie
Volgens Fourie het verskeie instansies, landbouers, die besigheidskamer en individuele besighede reeds die provinsiale sowel as nasionale regering gekontak om opruiming aan die pad as die hoogste prioriteit te hanteer.
"Ons het geen ander opsie as om die dringendheid van die saak by wyse van 'n petisie aan die verskillende departemente voor te lê nie. Die petisie is Sondag opgestel en teen Dinsdag 9 Junie was daar reeds ongeveer 2 400 geverifieerde handtekeninge. Ons sien nog geen verskil of daadwerklike optrede nie," het sy Dinsdag aan Oudtshoorn Courant gesê.
Die petisie is Woensdag 10 Junie by die gesamentlike operasionele sentrum (JOC) in Mosselbaai aan Alan Winde, Wes-Kaapse premier oorhandig. 'n Afskrif van die petisie wat aan die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, gerig is, is ook aan Winde oorhandig om aan Simmers te gee.
Die tydelike tweespoorpad onder die rotsstorting is tans die enigste roete tussen die Swartberge en Oudtshoorn. Foto: Hannes Visser
Enigste roete, privaat eiendom
Die enigste roete wat inwoners teen Dinsdag 9 Junie tussen die Swartberge en Oudtshoorn kon volg, was 'n tweespoorpaadjie wat reg onder die rotsstorting oor privaat grond loop.
Dié paadjie word deur boere, skoolbussies en noodvoertuie gebruik en is glad nie oop vir gebruik deur motoriste wat nie in die omgewing woon nie.
VIDEO: Pienaar Muller gesels met Hannes Visser oor grottepad
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan die omgewing Maandag, het 'n boer gesê hy het oor die naweek twee voertuie met toeriste teëgekom wat die paadjie probeer gebruik het om toegang tot die Swartbergpas te kry.
"Mense besef nie hoe gevaarlik dit is nie. Daar kan enige tyd rotse afval en die paadjie is so smal dat net een voertuig op 'n slag kan deurry. Vir iemand wat die pad glad nie ken nie, is dit nog gevaarliker."
Oopstel van die R328 'n prioriteit
Fourie stem saam met ander inwoners dat dit frustrerend is dat daar nie direk met die belanghebbendes gekommunikeer word nie. "Ons moet staatmaak op algemene mediavrystellings wat deur die departement uitgestuur word. Die vrystellings is egter nie kredietwaardig nie, aangesien die inligting teenstrydig is met wat ons sien (of nie sien nie) hier op grondvlak gebeur."
In reaksie op 'n navraag wat aan Simmers gestuur is, het hy by monde van sy woordvoerder, Melt Botes, Dinsdag 'n verklaring uitgereik wat die versekering gegee het dat die veiligheid van motoriste en die oopstel van die R328 'n prioriteit is.
Volgens Simmers het gespesialiseerde spanne reeds begin om die rotswand bokant die rotsstorting te stabiliseer toe die tweede storm verlede week tussen 3 en 5 Junie uitgebreek het. Hierdie storm het nie net die werk wat reeds gedoen was, ongedaan gemaak nie, maar ook tot verdere erosie en stortings gelei.
Gespesialiseerde geotegniese spanne het volgens Simmers die toneel Maandag 8 Junie besoek om die stabilisering van die rotswand te hervat, aangesien dit noodsaaklik is om verdere stortings te voorkom voordat daar met die opruiming van rotse op die pad begin kan word.
Simmers sê dat daar terselfdertyd dringend aandag gegee word aan alternatiewe roetes wat gebruik kan word, wat tans ook as gevolg van vloede onbegaanbaar is. Hy het die versekering gegee dat sy departement daartoe verbind is om die roete so gou as moontlik oop te kry, maar dat die veiligheid van werkers en padgebruikers as prioriteit hanteer word.
Vorige berigte:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’