OUDTSHOORN NUUS - Die bedrogsaak teen 'n egpaar van Oudtshoorn, wat hulle glo met onwettige staatstenders verryk en begunstigdes benadeel het, is verlede week na die getuienis van een van die beskuldigdes vir verdere verhoor tot einde Maart uitgestel.
Die staat beweer dat Marthinus Rabie, 'n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse departement van landbou by die Oudtshoorn-proefplaas, sy vrou, Johanna Rabie, se twee beslote korporasies, Attaqua en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 met die toekenning van tenders bevoordeel het. Miljoene rande is by die saak betrokke.
Marthinus Rabie het verlede Maandag begin getuig en sal met die voortsetting van die saak op 30 Maart deur die staatsaanklaer, Hyron Goulding, onder kruisverhoor geneem word.
Volgens Rabie was hy nooit in diens van een van die twee beslote korporasies van sy vrou nie en is dit onwaar dat hy terreinvergaderings só gereël het dat net sommige mense dit kon bywoon. Volgens hom het hy ook nie op die departement se tenderkomitee gedien om die maatskappye van sy vrou te bevoordeel nie.
Oor die bywoning van terreinvergaderings het hy getuig dat enigeen dit kon bywoon ongeag of dit familie was of nie. Daar is vroegtydig kennis gegee en soms word twee sulke vergaderings op 'n dag gehou om soveel mense as moontlik die kans te gee om dit by te woon, het hy gesê.
Hy het ook ontken dat hy ooit as professionele persoon by sy vrou se korporasies betrokke was.
Die saak word deur streeklanddros Daniël Boks aangehoor en die beskuldigdes word deur Gideon Badenhorst van die firma James King & Badenhorst verteenwoordig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'