Update
OUDTSHOORN NUUS - Die staat het die Oudtshoorn-streekhof versoek om Marthinus (62) en Johanna Rabie (60), wat op 34 aanklagte van bedrog skuldig bevind is, elk tot 15 jaar direkte gevangenisstraf te vonnis.
Staatsaanklaer Hyron Goulding het dié versoek Vrydag 10 Julie aan streeklanddros Daniel Boks gerig. Die egpaar is in November verlede jaar, ná ’n hofsaak wat byna tien jaar geduur het, skuldig bevind.
Die hof het bevind dat Marthinus, ’n voormalige tegnikus by die Wes-Kaapse departement van landbou se proefplaas in Oudtshoorn, tussen 2006 en 2008 sy vrou en haar twee beslote koöperasies, Attakwa Ontwikkelings en Gwaiing Ontwikkelings, onregmatig bevoordeel het deur tenders ter waarde van meer as R3 miljoen aan hulle toe te ken.
In sy uitspraak het Boks gesê Rabie het sy werkgewer doelbewus mislei deur nie bekend te maak dat die koöperasies aan sy vrou behoort nie. Die hof het bevind daar was sameswering tussen die egpaar om die twee ondernemings te bevoordeel.
Volgens die getuienis van verskeie van die 45 staatsgetuies het Marthinus self by projekte betrokke geraak en gehelp om dit uit te voer. Die hof het verder bevind dat hy by meer as een geleentheid valslik aan die departement voorgestel het dat projekte voltooi is, waarna betalings gemaak is vir werk wat nog nie afgehandel was nie.
Hoewel die beskuldigdes aanvanklik op 68 aanklagte van bedrog, alternatiewelik korrupsie, tereggestaan het, is die aanklagte later tot 34 verminder. Die hof het beslis dat dié wysiging die beskuldigdes nie benadeel het nie en dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
Die egpaar se regsverteenwoordiger, adv. Henry van Breda, het die hof versoek om korrektiewe toesig as vonnis te oorweeg. Hy het aangevoer dat die beskuldigdes se gevorderde ouderdom en swak gesondheid in ag geneem moet word en dat hulle steeds ’n waardevolle bydrae tot die ekonomie kan lewer deur hul kennis en vaardighede met ander te deel.
Van Breda het ook daarop gewys dat korrektiewe toesig al in verskeie bedrogsake waar groter geldbedrae ter sprake was, opgelê is.
Die staat hou egter vol dat slegs direkte gevangenisstraf gepas sal wees. Goulding het aangevoer dat die egpaar geen berou toon nie, die staat met meer as R3,2 miljoen bedrieg het en dat die misdrywe oor ’n lang tydperk gepleeg is.
Volgens die staat was daar geen finansiële nood wat hul optrede kon regverdig nie, aangesien Marthinus ’n vaste betrekking gehad het en sy vrou reeds die twee beslote koöperasies besit het.
Benewens die versoek dat die egpaar elk 15 jaar gevangenisstraf opgelê word, vra die staat dat Attakwa Ontwikkelings en Gwaiing Ontwikkelings elk met R100 000 beboet word.
Adv. Nodada Gantolo van die Batebeslagleggingseenheid het ná die skuldigbevinding aangedui dat die eenheid ’n aansoek sal bring om die beskuldigdes te verplig om die geld wat deur die misdade verkry is, aan die staat terug te betaal. Indien hulle dit nie doen nie, sal die staat poog om hul bates te verkoop om die geld te verhaal.
Adjudant-offisier JP Kennedy was die ondersoekbeampte in die saak.
Vonnisoplegging is op versoek van die verdediging tot 29 Julie uitgestel.
Vorige artikels:
- Egpaar begin getuig in bedrogsaak
- Bedrogsaak teen Rabie-egpaar duur voort
- Hofbevel vir beslaglegging op egpaar se bates
- Egpaar bedrogsaak duur voort
- Bedrogsaak teen egpaar uitgestel na 2017
- Egpaar weer in Junie voor hof
- Egpaar in hof: Bedrog van R2.8 miljoen
- Bedrogsaak van egpaar uitgestel
- Bedrogsaak teen Rabie-egpaar in pylvak
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’