OUDTSHOORN NUUS - Die uitgerekte verhoor van 'n egpaar van Oudtshoorn wat hulle na bewering met onwettige staatstenders verryk het, is in die streekhof vir verdere kruisondervraging van die vrou tot Augustus uitgestel.
Die staat beweer dat Marthinus Rabie, 'n voormalige tegnikus in diens van die Wes-Kaapse departement van landbou by die Oudtshoorn-proefplaas, sy vrou, Johanna Rabie, se twee beslote korporasies, Attakwa en Gwaiing Ontwikkelings, tussen 2006 en 2008 bevoordeel het met die toekenning van tenders.
Die egpaar staan tereg op 37 aanklagte van bedrog, alternatiewelik korrupsie, waarby miljoene rande betrokke is.
Johanna Rabie was sedert Maandag vir 'n verdere drie dae onder kruisverhoor.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het dit aan Rabie gestel dat sy haar eienaarskap van Gwaiing Ontwikkelings geheim gehou het wanneer dit by die indiening van kwotasies gekom het. Sy het om die rede altyd iemand saam met haar na terreinvergaderings geneem wat dan namens Gwaiing dokumente onderteken het.
Volgens Goulding sal hy betoog dat Marthinus Rabie as tegnikus by die proefplaas kennis gedra het van ander kontrakteurs se kwotasies vir projekte. Hy het sy vrou dan meegedeel wat die bedrae was en sy het dan 'n laer kwotasie ingedien en die werk gekry.
Johanna Rabie het getuig die rede waarom sy Francois de Kock gevra het om saam te gaan na terreinvergaderings was omdat sy dikwels die enigste kontrakteur was wat teenwoordig is. Sy het dikwels ook ander mense gevra om haar na terreinvergaderings te vergesel het sy getuig.
Rabie het dit aan die staatsaanklaer gestel dat die stelling dat sy die departement van landbou wou mislei "nie gewig dra nie".
Sy het ook ontken dat sy De Kock versoek het om kwotasies namens Gwaiing Ontwikkelings op te stel.
Volgens Goulding het dit verskeie kere gebeur dat Gwaiing 'n laer kwotasie as Attakwa ingedien het en Attakwa tog die werk gekry het.
"U het u eienaarskap van Gwaiing Ontwikkelings al die pad weggesteek."
Volgens Goulding het meeste van die staatsgetuies nie geweet dat Johanna Rabie die eienaar van beide BK's was nie en dit eers baie later uitgevind.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en is verlede Woensdag vir die verdere kruisondervraging van Johanna Rabie tot 21, 22 en 23 Augustus uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'