OUDTSHOORN NUUS - Die 36-jarige Jacques Roman van Oudtshoorn is Dinsdag 28 April tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte van strafbare manslag, poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Roman is aanvanklik van moord aangekla ná die dood van die 39-jarige Lesley-Ann Jullies, wat op 2 Maart 2025 in die Godfather-sportkroeg in Voortrekkerweg oorlede is. Hy het egter skuldig gepleit op 'n klag van strafbare manslag nadat hy erken het dat hy 'n glas na haar gegooi het.
Sy het op die toneel doodgebloei.
Hy het verder skuldig gepleit op 'n aanklag van poging tot moord vir 'n voorval op 15 Mei 2024, ook by die Godfather, waar hy erken het dat hy Urlin Campher (36) met 'n stukkende bierbottel gesteek het.
Op 'n derde aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer het Roman erken dat hy op 4 Augustus 2024 vir Tanya Blaauw (25) in Smartie Town met 'n stukkende bierbottel in die gesig gesteek het.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het gesê dat die families van die slagoffers tevrede is met die vonnisse.
Die landdros het Roman tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis, nadat die vonnisse vir strafbare manslag, poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer samelopend opgelê is.
Die hof het sy status as eerste oortreder en sy skuldige pleit in ag geneem en hom ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Vorige berigte:
- Kroegman pleit skuldig op strafbare mansslag
- Glas-moordsaak na streekhof
- Borgtog geweier aan moordverdagte
- Vrou wat in kuierplek sterf ter ruste gele
- Glasstuk eis 'n lewe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’