OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie ondersoek 'n klag van moord nadat Lesley-Ann Jullies (39) by The Godfather Sports Pub, 'n gewilde kuierplek in Voortrekkerweg dood is.
Volgens sers. Wesley Twigg, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval Sondagoggend, 2 Maart, in die vroeë oggendure gebeur.
"Volgens berigte was daar 'n stryery en die verdagte het 'n glas teen die muur stukkend gegooi en 'n stuk glas het die slagoffer in die nek getref. Die slagoffer is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. Ons kan bevestig dat 'n volwasse man in verband met die moord gearresteer is en sal in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is."
Marshall Jullies, haar oom, het die week gesê die familie glo glad nie die storie dat 'n glas na haar toe gegooi is en 'n skerf haar getref het nie.
"Dit is aan ons bevestig dat 'n glasstuk haar slagaar getref het, maar dit maak nie sin nie. Sy moes binnekort in 'n verkrag-tingsaak getuig. Die verdagte in haar moordsaak is vriende met die verdagte in die verkragtingsaak. Hoe weet ons dat hulle haar nie daaroor wou doodmaak nie?"
Jullies sê hulle as familie sal seker maak dat geregtigheid geskied.
"Kyk, niemand is perfek nie, ons almal maak foute, maar Lesley was 'n vriendelike en geliefde persoon met baie vriende. Ek het baie met haar baklei oor die klub, ons is nie so grootgemaak in ons familie nie, maar sy het nie verdien om so te sterf nie. Ons as familie is gebroke hieroor. "
Wyle Lesley-Ann Jullies
Oudtshoorn Community Against Crime (Ocac) gaan vandag, Donderdag 6 Maart, 'n kranslegging vir Jullies hou.
Die bestuur van Godfather het in 'n verklaring gesê dat hulle die voorval betreur.
"Ons dra ons meegevoel aan die familie oor. Ons dink aan julle in hierdie moeilike tyd.
Ons sal ten volle saamwerk met die ondersoek om die omstandighede van hierdie ongelukkige voorval vas te stel."
Die bestuur het ook die kuierplek tydelik gesluit uit respek vir Lesley-Ann en haar familie.
‘
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’