OUDTSHOORN NUUS - Die dood van Lesley-Ann Jullies op 2 Maart was nie toeval nie.
So het Veronica Louis, Saterdag in haar boodskap tydens die begrafnisdiens van die 39-jarige Jullies van Rheebokweg, Bridgton, gesê.
Jullies het die oggend van 2 Maart gesterf toe 'n glasstuk na bewering haar nek in The Godfather, 'n kuierplek in Voortrekkerweg, getref het. Sy is op die toneel deur paramedici dood verklaar is.
"Die Here praat vandag met die jongmense van Rheebokweg en Les se vriende. Jy kan lewe soos jy wil, maar jou dood kan jy nie bepaal nie," het Louis gesê.
Volgens Marshall Jullies, oom van Lesley-Ann, was sy 'n liefdevolle mens wat nie verdien het om so te sterf nie.
Hy het verwys na die tragiese dood van haar ma, Mary Jullies, wat in 2018 in haar rolstoel op die Calitzdorp-pad deur 'n vragmotor doodgery is en niemand vervolg is nie.
"Dit gaan nie met Les gebeur nie. Die man wat haar dood veroorsaak het moet antwoorde gee. Ek gaan nie rus nie."
Sy is Saterdag in huldeblyke deur haar vriende beskryf as 'n baie nederige mens met 'n aansteeklike glimlag en iemand wat altyd behulpsaam was. Sy was 'n mense-mens en baie lief vir die buitelewe. Sy kon ook lekker kosmaak en bak.
Die gemeenskapsorganisasie, Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC) het Donderdag 6 Maart 'n kransleggingsgeleentheid voor die kuierplek gehou.
Volgens die polisie is 'n man na die voorval op 2 Maart in hegtenis geneem wat op Dinsdag 4 Maart in die hof sou verskyn. Die saak is egter nie op die hofrol geplaas nie en die verdagte is vir eers vrygelaat.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’