OUDTSHOORN COURANT - Borgtog is verlede Woensdag, 25 Junie, aan Jacques Roman (36), wat aangekla word van moord op die Lesley-Ann Jullies (39), in die Oudtshoorn-landdroshof geweier.
Jullies het die oggend van 2 Maart vanjaar in The Godfather, ’n kuierplek in Voortrekkerweg, gesterf nadat sy glo met ’n glas gegooi is wat haar nek getref het. Sy het doodgebloei.
Die staatsaanklaer, Leandrie Visagie, sowel as die ondersoekbeampte het borgtog teengestaan.
Hulle het aangevoer dat hy ’n gewelddadige persoon is en ’n gevaar inhou vir die gemeenskap. Hy het ook twee hangende sake vir poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Hy het ook sy vrylatingssvoorwaardes verbreek.
Roman se regsverteenwoordiger, Charl Malan van die plaaslike Regshulpraad, het dit aan die ondersoekbeampte gestel dat hy nie ’n vlugrisiko is nie en tot dusver sy volle samewerking aan die polisie gegee het.
Wyle Lesley-Ann Jullies (39)
Volgens die ondersoekbeampte het Roman die betrokke oggend die oorledene gevloek en haar met ’n glas gegooi. Toe sy val en bloei het hy oor die toonbank gespring, sy T-hemp uitgetrek en probeer om die bloeding te stop. Die ambulans is ontbied, maar Jullies is op die toneel deur paramedici dood verklaar. Roman het glo ook van die getuies gedreig om nie verklarings aan die polisie af te lê nie.
Landdros Zuastrid Deyce het bevind dat Roman nie die hof oortuig het dat dit in belang van geregtigheid is om borgtog aan hom toe te staan nie.
Die saak is vir verdere ondersoek en twee uitstaande verklarings tot 28 Julie uitgestel.
Roman het later Woensdagmiddag vlugtig in die streekhof verskyn op aanklagte van poging tot moord en aanranding. Die saak is deur streeklanddros Ntsoki Moni tot 8 Julie uitgestel.
Vorige berig:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’