Update
OUDTSHOORN NUUS - Die 36-jarige Jacques Roman van Oudtshoorn het Vrydag 10 April in die Oudtshoorn-streekhof skuldig gepleit op aanklagte van strafbare manslag, poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer nadat hy ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan het.
Roman is aanvanklik van moord aangekla ná die dood van die 39-jarige Lesley-Ann Jullies, wat op 2 Maart 2025 in die Godfather-sportkroeg in Voortrekkerweg dood is.
Roman, wat ten tyde van die voorval as kroegman gewerk het, het ’n glas na haar gegooi waarna sy ernstig beseer is en op die toneel doodgebloei het.
Hy het egter onskuldig gepleit op aanklag van moord en skuldig aan strafbare manslag, aangesien hy volgens sy pleitverklaring nie die bedoeling gehad het om Jullies se dood te veroorsaak nie.
Roman het verder skuldig gepleit op aanklag van poging tot moord wat verband hou met ’n voorval op 15 Mei 2024, ook by die Godfather. Hy het erken dat hy tydens ’n woordewisseling met Urlin Campher (36) die man van ’n stoel afgestoot en hom met bierbottels aangeval het, wat tot lewensgevaarlike beserings gelei het.
Op ’n derde aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer het Roman erken dat hy op 4 Augustus 2024 vir Tanya Blaauw (25) in Smartie Town met ’n stukkende bierbottel in die gesig gesteek het.
Volgens sy pleitverklaring erken Roman dat hy in al drie voorvalle verkeerd opgetree het en uit eie vrye wil besluit het om skuldig te pleit.
Die staatsaanklaer is TC Coerecius, terwyl Roman deur Margaretha Aucamp van die Regshulpraad verteenwoordig word.
Die verrigtinge is tot 20 April vir verdere getuienis en vonnisoplegging uitgestel. Roman bly in aanhouding.
Vorige berigte:
- Glasmoord-saak na streekhof
- Borgtog geweier aan moordverdagte
- Vrou wat in kuierplek sterf ter ruste gele
- Glasstuk eis 'n lewe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’