OUDTSHOORN NUUS - ’n Vrou van Gauteng, Hanje Harmse, is Maandag 13 Julie in die Oudtshoorn-streekhof op aanklag van bedrog vrygespreek.
“Die staat het nie daarin geslaag om sy saak bo redelike twyfel te bewys nie en die beskuldigde word gevolglik vrygespreek,” het streeklanddros Bulelani Bans in sy uitspraak gesê.
Hanje Harmse is daarvan aangekla dat sy saam met haar man, Dale, ’n sakeman van Oudtshoorn, Matthys Slabbert, uit meer as R500 000 bedrieg het.
Dale, wat hom destyds as ’n advokaat voorgedoen het, hoewel hy in werklikheid ’n elektrisiën is, het reeds in 2022 skuld beken en is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Hy is egter in November 2023 ingevolge ’n bevel van die hooggeregshof in Pretoria vrygelaat nadat feite rakende vroeëre vonnisse aan die hof voorgelê is.
Hanje se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het aangevoer dat sy kliënt se weergawe redelik moontlik waar is en dat die getuienis van staatsgetuies nie voldoende was om ’n skuldigbevinding te regverdig nie.
Volgens hom het verskeie onbeantwoorde vrae in die staat se saak oorgebly.
Die staatsaanklaer, TC Coerecius, het daarteenoor aangevoer dat die staat sy saak wel bewys het en dat Harmse se weergawe verwerp moes word. Volgens hom het die staatsgetuies se getuienis mekaar in verskeie opsigte ondersteun.
Die verdediging het sy saak in April vanjaar gesluit nadat die hof ’n aansoek geweier het dat Dale Harmse virtueel getuig.
Hanje het getuig dat sy nooit bewus was van haar man se beweerde bedrywighede nie en eers daarvan uitgevind het nadat die saak aan die lig gekom het.
Sy het gesê sy is self vir bykans 20 jaar deur haar man gemanipuleer.
Sy het verder ontken dat die inligting wat volgens die polisie in haar waarskuwingsverklaring opgeneem is, deur haar verskaf is.
Volgens Hanje was sy slegs een keer in Oudtshoorn, toe sy in Februarie 2020 saam met haar man hierheen gery het om ’n bakkie vir ’n vriend af te lewer. Sy het getuig dat Dale onderweg gesê het hy moet eers iemand ontmoet en dat sy die klaer, Matthys Slabbert, net vlugtig gesien het.
Sy het ook ontken dat sy Anja Smit, destyds Slabbert se assistent, ooit ontmoet het of dat Smit tydens die besoek teenwoordig was.
Verder het sy ontken dat dit haar stem is wat op ’n klankopname gehoor kan word en het sy ook die getuienis van ’n derde staatsgetuie, Emmerenthia Weyngaardt, betwis.
Nadat al die getuienis oorweeg is, het die hof bevind dat die staat nie die vereiste bewyslas gedra het nie en Hanje Harmse is gevolglik vrygespreek.
Vorige artikels:
- Bedrogsaak teen vrou van Noordwes gaan Augustus voort
- Bedrogsaak teen Gauteng-vrou duur voort
- Verhoor van Hanje Harme in 2025 voortgesit
- Bedrogsaak vir verhoor uitgestel
- Bedrogsaak teen Hanje Harmse in April
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’