OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ‘n vrou van Krugersdorp, wat van geldwassery en bedrog aangekla word, is Maandag in die Oudtshoorn-streekhof finaal vir verhoor tot later vanjaar uitgestel.
Hanje Harmse (48) het glo gedurende Februarie en Maart 2020 in samewerking met haar man, die veroordeelde Dale Harmse, wat hom as ‘n advokaat voorgedoen het, die sakeman, Matthys Slabbert van Oudtshoorn, uit meer as R500 000 bedrieg het. Dale is al in 2022 15 jaar tronkstraf opgelê.
Harmse se regsverteenwoordiger, Brian Carelse, het die hof Maandag 2 September meegedeel dat sy besluit het om nie voort te gaan met pleitonderhandeling met die staat nie, maar onskuldig sal pleit. Die pleitooreenkoms het behels dat sy skuld beken op die aanklagte teen haar en sy ‘n bedrag van R250 000 aan Slabbert moet betaal.
Streeklanddros Daniel Boks het Maandag gesê die saak het nou al ‘n baie lang geskiedenis en dat die verhoor nou moet begin.
"Al die siekbriewe stop nou,” het die landdros aan Harmse gesê.
Die saak is finaal vir twee dae se verhoor, 10 en 11 Desember, uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’