Update
OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ’n vrou van Klerksdorp, Noordwes, wat van bedrog en geldwassery aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere getuienis tot 20 Augustus uitgestel nadat die staat toestemming gekry het om nuwe inligting wat bekom is, deel van die saak te maak.
Die 49-jarige Hanje Harmse het glo saam met haar man, Dale Harmse (51), gewerk om ’n sakeman van Oudtshoorn, Matthys Slabbert, uit meer as ’n halfmiljoen rand te bedrieg.
Dale Harmse het hom as ’n advokaat aan Slabbert voorgestel en sy vrou as regsassistent, om regswerk vir Slabbert te doen.
Die nuwe inligting is op ’n diktafoon, wat tydens Dale se inhegtenisneming gekonfiskeer is. Die polisie het dit verloor, maar dit is intussen weer opgespoor.
Waarnemende streeklanddros Bulelani Bans, het die aansoek van die staat onder streng voorwaardes toegestaan.
Louis Oosthuizen, prokureur, het vroeër getuig dat Slabbert hom in 2020 genader het om te help vasstel of Dale Harmse wel ’n advokaat is of nie, en om die geld terug te kry wat hy aan hom oorbetaal het.
In sy korrespondensie met Dale, het dit ook voorgekom asof hy, sy vrou en sy oorlede pa as ’n soort sindikaat opgetree het.
Hanje is ook die enigste direkteur van ’n maatskappy wat Dale glo verteenwoordig het.
Sy beweer in ’n beëdigde verklaring dat haar man nooit as advokaat opgetree het nie, maar in sy hoedanigheid as uitvoerende hoof van ’n maatskappy.
Dale is in 2022 aan bedrog skuldig bevind en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, maar om een of ander rede in 2023 ingevolge ’n bevel van die hooggeregshof in Pretoria vrygelaat.
Die verdediging het reeds aangedui dat hy nog as getuie in die saak teen sy vrou geroep sal word.
Ticey Coerecius is die aanklaer in die saak en Hanje word deur Lourens Swanepoel verteenwoordig.
Vorige artikels:
- Bedrogsaak teen Gauteng-vrou duur voort
- Verhoor van Hanje Harme in 2025 voortgesit
- Bedrogsaak vir verhoor uitgestel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’