OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n vrou van Krugersdorp, wat van bedrog en geldwassery aangekla word, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof na nog twee dae se verhoor, vir die getuienis van die laaste twee staatsgetuies, tot 14 Julie uitgestel.
Hanje Harmse (48) word daarvan aangekla dat sy in 2020 in samewerking met haar man, Dale Harmse, vir sakeman Matthys Slabbert uit meer as R500 000 bedrieg het. Sy ontken skuld op die aanklagte teen haar.
Harmse het homself as 'n advokaat aan Slabbert voorgedoen. Hy is skuldig bevind aan die aanklagte teen hom en is in 2022 tronkstraf van 23 jaar opgelê.
Die verhoor is verlede Donderdag met die kruisondervraging van Ansa Smit wat die klaer, Matthys Slabbert, se administrasie en tikwerk behartig het, hervat.
Smit het getuig dat Hanje by was tydens Slabbert se ontmoeting met haar man, Dale.
Dale het hom as advokaat aan Slabbert voorgestel en sy vrou as sy regsassistent.
Emmrenthia Weyngardt, het Vrydag getuig dat sy Dale in Maart 2020 ontmoet het nadat Slabbert haar wou help met 'n bedrogsaak. Sy en haar pa is toe na Slabbert se huis waar sy die egpaar ontmoet het.
Hanje het 'n skootrekenaar by haar gehad en Dale het haar versoek om 'n geheuestokkie aan haar te gee om al die inligting op die rekenaar af te laai. Toe Slabbert haar later vertel van Dale Harmse en die bedrog, het sy besluit om na die polisie te gaan en 'n verklaring afgelê.
Volgens Lourens Swanepoel, Hanje se regsverteenwoordiger, ontken sy dat die ontmoeting ooit plaasgevind het óf dat sy vir Weyngardt ken.
Die saak word deur waarnemende landdros, Bulelani Bans, aangehoor en Ticey Coerecius is die aanklaer.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’