OUDTSHOORN COURANT - Die verhoor van 'n vrou van Krugersdorp wat van bedrog en geldwassery aangekla word, het uiteindelik 10 Desember in die Oudtshoorn-streekhof begin nadat die hof verdere uitstel geweier het.
Waarnemende landdros Bulelani Bans, het 'n versoek van die verdediging om vertoë tot die DOV te rig van die hand gewys omdat die saak nou al te lank sloer.
Hy het ook verwys na getuies wat spesiaal vanaf Kaapstad gekom het, asook Harmse wat van Gauteng gereis het, en na deeglike oorweging bevind dit in belang van geregtigheid is dat die saak voortgaan.
Hanje Harmse (48) word daarvan aangekla dat sy in 2020 in samewerking met haar man Dale Harmse, sakeman Matthys Slabbert uit meer as R500 000 bedrieg het.
Harmse het homself as 'n advokaat aan Slabbert voorgedoen. Hy is skuldig bevind aan die aanklagte teen hom en is in 2022 23 jaar tronkstraf opgelê. Hy het die sakeman, Matthys Slabbert, van Oudtshoorn uit meer as R500 000 bedrieg.
Slabbert, wat as eerste getuie geroep is, het getuig dat hy die egpaar in 2020 ontmoet het, toe hulle met 'n bakkie met 'n GP-nommerplaat by sy huis in Oudtshoorn aangekom het.
Dale Harmse het 'n leertas by hom gehad en homself as 'n advokaat voorgestel en sy vrou as sy sekretaresse.
Slabbert het vertel dat 'n vriend hom na Harmse verwys het vir regshulp toe hy nie gelukkig was met sy regspan in 'n saak teen sy gewese vrou nie.
Hy het later R535 000 in Dale se 'trustrekening' betaal vir veilige bewaring.
Tydens die Covid 19-pandemie het hy Dale versoek om die geld terug te betaal omdat hy kontantvloeiprobleme ondervind het. Dit het egter nie gebeur, aldus Slabbert.
Harmse se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het met kruisondervraging aan Slabbert gestel dat sy sal ontken dat sy by die bedrogspul betrokke was of hom ooit ontmoet het.
Dale Harmse is al in 2022 skuldig bevind aan bedrog en geldwassery en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is. Hy is in 2023 ingevolge 'n bevel van die hooggeregshof in Pretoria op parool vrygelaat.
Volgens die verdediging sal Dale Harmse self vir sy vrou getuig en die hof sal meedeel dat sy vrou nooit daarvan bewus was dat hy hom in die hooggeregshof as 'n advokaat voorgedoen het of hoe hy sy inkomste verdien het nie.
Hanje was glo ook nie deel van vergaderings in Oudtshoorn en Wildernis of gesprekke rakende regshulp wat aan Slabbert verskaf is nie.
Slabbert het dit ontken en breedvoerig die ontmoetings met die egpaar beskryf. Hy het op 'n keer dit aan die hof gestel dat verdediging vrae aan hom stel wat niks met die saak te doen het nie.
Ticey Coerecius is die aanklaer in die saak wat vir voortsetting van die verhoor tot 29 en 30 Januarie 2025 uitgestel is.
Dale Harmse is tans in die George-gevangenis in verband met 'n ander saak waarvoor hy weer op 17 Desember in die George-streekhof moet verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’