OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen Hanje Harmse (49) van Gauteng, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot April uitgestel.
Harmse word daarvan beskuldig dat sy saam met haar vervreemde man, Dale Harmse, in 2020 'n sakeman van Oudtshoorn, Matthys Slabbert, uit meer as 'n halfmiljoen rand bedrieg het deur sogenaamde "regswerk" vir hom te doen.
Die uitstel volg ná twee dae se getuienis, op versoek van die verdediging, en is tot 21 April toegestaan vir 'n aansoek dat die verhoor in camera voortgesit word, asook 'n versoek dat haar vervreemde man virtueel moet getuig.
Hanje het Woensdag getuig dat sy eers bewus geraak het van Dale se beweerde bedrywighede toe dit later aan die lig gekom het. Sy het verder aangevoer dat sy self vir byna 20 jaar deur hom gemanipuleer is.
Sy het ook ontken dat sekere inligting, wat volgens die polisie in 'n waarskuwings-verklaring vervat is, van haar afkomstig is.
Volgens Hanje was sy slegs een keer in Oudtshoorn, in Februarie 2020, toe sy saam met Dale gery het om 'n bakkie vir 'n vriend af te lewer. Sy het getuig dat hy onderweg aangedui het dat hy iewers moet stop, waartydens sy die klaer, Slabbert, net vlugtig ontmoet het.
Sy het ontken dat sy Anja Smit, wat destyds Slabbert se regterhand was, ontmoet het of dat Smit enigsins tydens dié besoek teenwoordig was.
Hanje het verder ontken dat dit haar stem is wat op 'n diktafoonopname van Dale gehoor kan word, en het ook die getuienis van 'n derde staatsgetuie, Emmerenthia Weyngaardt, betwis. Volgens Weyngaardt was Hanje tydens 'n ander ontmoeting met Slabbert in Maart 2020, teenwoordig, iets wat sy ontken.
Die staatsaanklaer, TC Coerecius, het dit aan die beskuldigde gestel dat sy nie, soos sy voorhou, slegs een keer saam met haar man by die klaer se woning was nie, maar dat dit deur drie staatsgetuies weerspreek word.
Haar regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het die hof meegedeel dat hy, weens die sensitiwiteit van 'n minderjarige se getuienis, aansoek wil doen dat dié deel van die verrigtinge in camera aangehoor word. Hy het ook versoek dat Dale via 'n videoskakel in die saak getuig.
Die saak dien voor waarnemende landdros Bulelani Bans, en is vir verdere verhoor oor drie dae, 21, 22 en 23 April, uitgestel.
Dale het in 2022 skuld beken op verwante aanklagte en is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy is egter in November 2023 vrygelaat ná 'n bevel van die hooggeregshof in Pretoria, gebaseer op nuwe feite wat met betrekking tot vorige vonnisse aan die hof voorgehou is.
Vorige artikels:
- Bedrogsaak teen vrou van Noordwes gaan Augustus voort
- Bedrogsaak teen Gauteng-vrou duur voort
- Verhoor van Hanje Harme in 2025 voortgesit
- Bedrogsaak vir verhoor uitgestel
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’