Update
OUDTSHOORN NUUS - Borgtog aan die musiekonderwyser wat van seksuele aanranding, seksuele gereedmaking en statutêre verkragting van ’n minderjarige aangekla word, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-landdroshof geweier.
Landdros N Khan het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid is om borgtog aan die 31-jarige beskuldigde toe te staan nie al is hy ’n eerste oortreder.
Die staat het met die aanvang van die aansoek ’n klagte van verkragting teen die beskuldigde teruggetrek.
Die dade met die 13-jarige meisie, vir wie die beskuldigde klavierlesse gegee het, is volgens die klagstaat glo in 2024 gepleeg. Hy het op 10 Januarie vanjaar homself aan die polisie oorgegee nadat hy van die aanklagte teen hom gehoor het.
Die hof het tydens die aansoek gehoor dat die beskuldigde tydens sy musiekstudies aan die Universiteit van Stellenbosch ook van ’n seksuele daad met ’n mede vroulike musiekstudent beskuldig is, aanranding van ’n manlike student en twee vroue met wie hy in verhoudings was, beskermingsbevele teen hom verkry het wat steeds van krag is. Geen saak is egter teen hom by die polisie aanhangig gemaak nie.
In ’n verklaring wat deur sy regshulpprokureur, Charnelle Nel-Bruce, aan die hof voorgelees is, vra die verdagte om borgtog omdat hy vir sy familie wil gaan sorg. Hy het ‘n alternatiewe adres waar hy sal kan bly gedurende die hofsaak en is bereid om sy paspoort aan die ondersoekbeampte te oorhandig.
’n Tannie van hom het die hof versoek om borgtog toe te staan omdat sy familie tans finansieel swaarkry sonder die R2 000 wat hy maandeliks tot die huishouding bygedra het.
Die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, het borgtog teengestaan vanweë die ernstige aanklagte teen die beskuldigde.
Die ondersoekbeampte, ao. Wania Uys, het in haar getuienis gesê dat die kind aan haar vertel het dat sy die beskuldigde vertrou het.
Uys het borgtog teengestaan omdat sy van mening is dat hy sy vertrouensposisie misbruik het.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 7 April uitgestel.
Vorige artikels:
- Borgtogaansoek van onnie uitgestel
- Borgaansoek Maandag voortgesit
- Musiekonderwyser se borgtog uitgestel
- Musiekonnie in hof vir verkragting
- Oudtshoorn musiek-onnie voor vir verkragting
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’