Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - ’n Musiekonderwyser van Oudtshoorn het vandag, 17 Januarie, in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn op aanklagte van seksuele aanranding en verkragting.
Volgens kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagte op Vrydag 10 Januarie deur lede van die Oudtshoorn-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) in hegtenis geneem. Dit volg ná bewerings dat hy ’n minderjarige seksueel aangerand en verkrag het.
Die verdagte het, volgens Van Wyk, glo musieklesse by ’n skool in die omgewing aangebied. “Ons kan geen verdere besonderhede rondom die omstandighede van die voorval bekendmaak nie, aangesien die slagoffer minderjarig is,” het kapt. Van Wyk bevestig.
Volgens 'n betroubare bron het die verdagte homself glo aan die polisie oorgegee na hy van die klagte teen hom gehoor het.
Die verdagte sou vandag vir ’n borgtogaansoek verskyn, maar die aansoek is tot Dinsdag 23 Januarie uitgestel.
Ingevolge wetgewing mag die verdagte se naam nie bekend gemaak word voordat hy in die hof gepleit het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’