OUDTSHOORN - Die borgtogaansoek van die 31-jarige musiekonderwyser van Oudtshoorn, wat van seksuele aanranding, seksuele gereedmaking van 'n minderjarige en statutêre verkragting aangekla word, is Dinsdag in die Oudtshoorn-landdroshof tot 10 Februarie uitgestel na die getuienis van 'n kerkleier wat deur die verdediging geroep is.
Die staat het Dinsdag, met die aanvang van die aansoek, 'n klagte van verkragting teen die applikant teruggetrek.
Die dade met die 13-jarige meisie, wat klavierlesse by die applikant geneem het, is volgens die klagstaat glo in 2024 gepleeg. Hy het op 10 Januarie vanjaar homself aan die polisie oorgegee nadat hy van die aanklagte teen hom gehoor het.
Die hof het Dinsdag gehoor dat hy as student aan die Universiteit van Stellenbosch van verkragting van 'n mede vroulike musiekstudent aangekla is, en na die aanranding van 'n manlike student en twee vroue gedurende sy studies aan die universiteit het hulle interdikte teen hom verkry.
In 'n verklaring wat deur sy regshulp-prokureur, Charnelle Nel-Bruce, aan die hof voorgelees is, vra die verdagte om borgtog omdat hy vir sy familie wil gaan sorg. Hy het 'n alternatiewe adres waar hy sal kan bly gedurende die hofsaak en is bereid om sy paspoort aan die ondersoekbeampte te oorhandig.
Landdros N. Khan het die saak op versoek van die staatsaanklaer, Leonie van Rooyen, tot 10 Februarie uitgestel wanneer die ondersoekbeampte, ao. Wanita Uys, beskikbaar sal wees om te getuig.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’