OUDTSHOORN NUUS - 'n Musiekonderwyser van Oudtshoorn, wat op 10 Januarie op seksuele aanklagte in hegtenis geneem is, verskyn vandag, Donderdag 23 Januarie in die hof, vir 'n borgtogaansoek.
Hy het verlede week sy eerste verskyning gehad.
Volgens kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagte deur lede van die Oudtshoorn-eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) in hegtenis geneem.
Die verdagte het glo musieklesse by 'n skool in die omgewing aangebied.
"Ons kan geen verdere besonderhede rondom die omstandighede van die voorval bekendmaak nie, aangesien die slagoffer minderjarig is," het kapt. Van Wyk bevestig.
Volgens die klagstaat is die aanklagte teen hom verkragting en seksuele gereedmaking (grooming).
Ingevolge wetgewing mag die verdagte se naam nie bekend gemaak word voordat hy in die hof gepleit het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’