Update
OUDTSHOORN NUUS - Sy glo nie dat die beskuldigde sal vlug of wegbly vir sy hofverskynings nie.
So het die ondersoekbeampte, ao. Wanita Uys, Dinsdag 18 Februarie op 'n vraag van die beskuldigde se regshulpprokureur, Charnelle Nel-Bruce, getuig in die borgtogaansoek van die musiekonderwyser van Dysselsdorp.
Hy word van seksuele aanranding, seksuele gereedmaking van 'n minderjarige en statutêre verkragting aangekla en het homself op 10 Januarie aan die polisie oorhandig.
Die aansoek van die 31-jarige beskuldigde is Maandag 17 en Dinsdag 18 Februarie met die kruisondervraging van Uys voortgesit en tot 25 Februarie uitgestel vir moontlike afhandeling.
Die hof het vroeër aangehoor dat hy as student aan die Universiteit van Stellenbosch van verkragting van 'n mede vroulike musiekstudent aangekla is, en na die aanranding van 'n manlike student en twee vroue gedurende sy studies aan die universiteit het hulle interdikte teen hom verkry. Daar was egter nie kriminele klagtes gelê nie en die insidente is deur die universiteit hanteer.
Volgens Uys het die beskuldigde nie enige vorige veroordelings op sy rekord of enige hangende sake teen hom nie. Sy is ook nie bewus van enige kriminele sake wat al teen hom gemaak is nie.
Op vrae van die verdediging of daar kameras in die klaskamers van die betrokke skool is, en of enige klagtes al by die skoolhoof teen die beskuldigde ingedien is, het sy gesê dat sy nie daarvan bewus is nie.
Die aansoek word deur landdros N Khan aangehoor en Leonie van Rooyen is die aanklaer.
Vorige artikels:
- Borgaansoek Maandag voortgesit
- Musiekonderwyser se borgtog uitgestel
- Musiekonnie in hof vir verkragting
- Oudtshoorn musiek-onnie voor vir verkragting
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’