OUDTSHOORN NUUS - Die borgtogaansoek van 'n musiekonderwyser van Oudtshoorn, wat van statutêre verkragting, seksuele aanranding en seksuele gereedmaking van 'n minderjarige vir wie hy klavierlesse gegee het, aangekla word, sal op Maandag 17 Februarie voortgesit word met die getuienis van die ondersoekbeampte, ao. Wanita Uys.
Uys het Maandag oor die meriete van die saak getuig.
Volgens haar is sy deur die minderjarige klaer meegedeel dat sy die beskuldigde vertrou het omdat hy soos 'n pa teenoor haar opgetree het.
"Hy het gereeld vir haar koeldrank en aartappelskyfies gaan koop en later begin vat aan haar borste. Sy het aanvanklik nee gesê, maar dit het later geëskaleer," het Uys getuig.
Sy het 'n medeleerder deur middel van WhatsApp daarvan vertel. Die vriendin het vir haar gesê dit is verkeerd en die slagoffer het ook haar ma vertel.
Die beskuldigde het sy vertrouensposisie misbruik en sy voel dat hy in hegtenis moet bly.
Volgens Uys was haar moeder ook baie geskok en vra dat die beskuldigde net moet wegbly van haar kind, ongeag die hof se beslissing.
Uys het ook drie briewe van leerders van dieselfde skool, wat ook musieklesse by die beskuldigde gekry het, aan die hof voorgelees, en gesê dat moontlik nog klagtes tot die klagstaat gevoeg kan word.
Charnelle Nel-Bruce van die Regshulpraad het 'n brief van 'n tante van die applikant voorgelees waarin sy die hof versoek om borgtog aan hom toe te staan omdat sy familie, wat almal in Dysselsdorp woon, tans finansieel sukkel sonder die R2 000 wat hy maandeliks tot die huishouding bydra.
Die aansoek word deur landdros Khan aangehoor en Leonie van Rooyen verskyn namens die staat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’