KRIEKET NUUS - Die SWD-binnenshuise krieketspan het by die pas afgelope interprovinsiale toernooi vir gemengde spanne in die Paarl puik gevaar deur die Plaat-afdeling te wen.
Die SWD het vyf van sy 10 wedstryde gewen en algeheel vyfde geëindig. Altesame 10 spanne het deelgeneem.
Die Westelike Provinsie het KwaZulu-Natal in die eindstryd om die eerste plek geklop terwyl Boland die bronsmedalje verower het.
Die SWD het die Laeveld Mambas van Nelspruit in die Plaat-eindstryd getroef deur 'n netjiese 110 lopies aan te teken en die Laevelders daarna vir 'n skamele 33 lopies uit te boender.
Vroeër in die toernooi het die SWD baie karakter gewys teen dieselfde Laeveld Mambas toe hulle 'n eina-telling van 29 lopies suksesvol verdedig het. Die Laeveld kon in hul 16 boulbeurte slegs 9 lopies aanteken.
In hul vorige toernooi in 2014 kon SWD net een wedstryd wen.
Die SWD skryf 'n groot deel van hul sukses toe aan die hulp van hul borge, Fastway en Aramax.
'Ons bring jou die nuutste Suid-Kaap nuus'