OUDTSHOORN NUUS - Geen grondgrypery gaan geduld word nie. Dit was een van die beleidsverbintenisse wat Dinsdag op 'n vergadering van senior ANC-beamptes en senior verteenwoordigers van landbou genoem is.
"Agri SA is bemoedig deur vandag se produktiewe vergadering met senior ANC-beamptes rakende landbougrondhervorming en landbou-eiendom," het Agri SA in 'n mediaverklaring gesê. "Agri SA waardeer spesifieke beleidsverbintenisse wat deur die ANC gemaak is."
Die vergadering is bygewoon deur Omri van Zyl, Agri SA se uitvoerende direkteur, Christo van der Rheede, Agri SA se adjunk-uitvoerende direkteur en Francois Strydom, Agbiz se voorsitter en die ANC-lede David Mabuza, ANC-adjunkpresident, en Paul Mashatile, ANC tesourier-generaal.
Die ANC het hom verbind tot die volgende met betrekking tot die landbougrond van kommersiële boere:
- geen grondgrype sal geduld word nie;
- die beskerming van produktiewe landbougrond sal prioriteit geniet; en
- eiendomsregte sal 'n prioriteit in landbougrondontwikkeling wees.
Ten opsigte van grond wat reeds in besit van die regering is, gebeur die volgende:
- onderbenutte grond in afgeleë landelike gebiede sal geoptimaliseer word;
- die regering is besig om 'n oudit van regeringsgrond vir die oordrag aan swart boere te finaliseer; en
- die proses sal afskop met produksie op 4 000 plase in regeringsbesit ten einde kommersiële waarde te ontsluit en boerderygeleenthede te skep.
"Die ondernemings van die ANC is belangrik, maar Agri SA is ook verbind tot die inwerkingstelling van 'n pragmatiese plan om die sektor te groei en om swart boere by te staan," het Van der Rheede gesê.
"Hierdie geskiedkundige vergadering skep 'n fondasie vir 'n volhoudende vennootskap met die oogmerk om landbou volhoubaar te transformeer en te laat groei," het Van Zyl gesê. "Ons sal egter gefokus bly om tasbare voordele vir produsente te onderhandel."
Strydom het gesê die landbousektor vra vir 'n samewerkende raamwerk vir groei. "Al die rolspelers binne die sektor is gretig om die proses vorentoe te neem."
Die vergadering was dit eens dat faksies wat moedswillig die gemeenskap oor die grondkwessie polariseer, teengestaan moet word. Die inter-ministeriële taakspan op grondhervorming is ook bespreek en 'n uitnodiging is aan georganiseerde landbou gerig om drie verteenwoordigers te delegeer.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'