Update
OUDTSHOORN NUUS - Herstelwerk aan die hoofwater-afvoerpyplyn vanaf die Raubenheimerdam vorder goed. Johan Uys, bestuurder grootwaterwerke by die Oudtshoorn-munisipaliteit, het Woensdag gesê die stukkende pyp is reeds met 'n nuwe vervang en moet nog in beton gegiet word.
Na die lekkasie op 6 April ontdek is, het herstelwerk op Maandag 28 Mei begin. Ongeveer twee miljoen liter water het per dag by die lekkasie uitgespuit. Weens die gevaar verbonde aan die herstelproses, waar die dam bo die kanaal kon meegee, moes 'n maand se intensiewe beplanning gedoen word.
Volgens Uys is die nuwe pyplyn laat verlede Vrydagmiddag getoets. "Die toets was positief. 'n Lekkasie opsporingspesialis is hierdie week besig om met ultrasoniese toerusting die pyplyn in die tonnel onder die dam na te gaan vir moontlike swakplekke of lekkasies.
"Dit is belangrik dat hierdie proses plaasvind terwyl die kontrakteur nog op terrein is."
Uys kon nie met sekerheid sê wanneer die pyplyn weer in volle gebruik sal wees nie, maar tydens 'n vorige perskonferensie het hy gesê vandat die werk begin, wil hulle dit binne 'n maand afgehandel hê.
Lees vorige berigte hier:
- Herstelwerk aan pyplyn begin
- Tegniese direkteur werp lig op massiewe pypbars
- Twee miljoen liter water per dag weg
- Foto wys dreigende waterramp
- Pypbars kan Oudtshoorn binne 2 dae droog laat
- Waterbeperkings nou streng gemonitor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'