Update
OUDTSHOORN NUUS - Die munisipale direkteur van tegniese dienste, Chris Koch, het Maandag meer in diepte die omvang van die enorme waterlek by die Raubenheimerdam verduidelik.
Tydens 'n perskonferensie het hy dit duidelik gestel dat toe hy, die bestuurder van groot waterwerke, Johan Uys, en hul span werkers die pypbars in die dam se hoofwaterafvoertonnel en pyp waargeneem het, het hulle dit onmiddellik aan die munisipale bestuurder, Allen Paulse, en die burgemeesterskomitee gerapporteer.
Ongeveer twee miljoen liter water lek daagliks uit die gebarste pyp. "Die pypstelsel is in 1974 aangelê en is besig om in te gee."
Koch het egter die versekering gegee dat die water nie verlore gaan nie. "Ons moet daagliks twee miljoen liter water aan landbou voorsien. Daardie uitlaat het ons gestop en die water loop nou in die Grobbelaarsrivier in - ideaal vir landbougebruik."
Hy het dit ook as rede aangevoer waarom droogtetariewe nie opgehef word nie. Die dam was Maandag 35,3% vol.
Die herstel van die pypstelsel is vir Koch en sy span 'n groot bekommernis. "Indien ons een fout maak, kan dit lewensverlies tot gevolg hê.
"Ons moet baie delikaat te werk gaan en dis die rede hoekom ons nog nie begin het met herstelwerk nie. 'n Hidroliese teleskopiese klep moet eers vervang word, voor ons die laste in die pyp kan nagaan en die pyp kan herstel. Indien die klep skielik toegaan, kan dit 'n skokgolf terug in die pyp veroorsaak, waar water teen een kilometer per sekonde deur die pyp sal vloei en rampspoedige gevolge sal hê."
Hy het verduidelik dat die vibrasie van boorwerk aan die beton waarin die pyp gegiet is, die beton tussen die tonnel en die onderkant van die dam kan laat ingee.
"Ons en die raadgewende ingenieurs is besig om krisisbestuur toe te pas en elke moontlike oorsaak tot 'n ramp uit te skakel voor ons die werk begin."
Koch en Uys het dit duidelik gemaak dat hulle die krisisbestuur en herstelwerk binne 'n maand wil afhandel.
Lees vorige berigte hier:
- Twee miljoen liter water per dag weg
- Foto wys dreigende waterramp
- Pypbars kan Oudtshoorn binne 2 dae droog laat
- Waterbeperkings nou streng gemonitor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'