Video
OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit is besig om krisisbestuur toe te pas om te keer dat die dorp sonder water sit.
‘n Pypbars is in die hoofwatertoevoerstelsel van die Raubenheimerdam gevind.
Volgens die portefeuljeraadslid vir tegniese dienste, Johan Fourie, en die direkteur tegniese dienste, Chris Koch, veroorsaak die pypbars ongeveer twee miljoen liter water per dag se verlies.
Die erns van die pypbars is vanoggend (Woensdag 9 Mei) tydens ‘n spesiale raadsvergadering deur Fourie en Koch beklemtoon. “Indien die pyp meegee kan die dam, wat tans 38% vol is, binne twee dae leeg loop,” het Fourie gesê.
Fourie het die raad gevra om dringend R3,5 miljoen beskikbaar te stel om ‘n nuwe pyp en kleppe binne die tonnel waarin die ou pyp is aan te lê. Intussen word water van die Mellvilledam na Oudtshoorn afgevoer.
Koch het verduidelik dat dié dam se waterinhoud die dorp vir 30 dae maksimum van water kan voorsien en dat die Raubenheimerdam se pypbars onmiddelik aandag moet geniet.
Kyk 'n video hieronder:
Met ‘n DA meerderheid stem van 12 teen agt is die onmiddelike finansiering goedgekeer. Die ANC en Icosa het voorgestel dat die regte tenderprosedures gevolg word.
Fourie het verduidelik dat dit ongeveer 90 dae sou neem en die pyp teen daardie tyd sou meegegee het.
Intussen is ‘n munisipale kennisgewing, 118 van 2018, uitgereik wat bepaal dat tot en met die dam weer 60% vol is, geen water vir leibeurte vanaf die Rauneheimerdam sal afgevoer word nie.
Lees 'n vorige artikel: Waterbeperkings nou streng gemonitor
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'