DE RUST NUUS - Water is gister, Vrydag 2 Januarie vanuit Oudtshoorn aangery na die De Rust-reservoir met beurtwater wat dreig om geïmplementeer te word in die dorp.
Volgens ‘n verklaring van die burgmeesters-kantoor hou Johan Allers, burgmeester, Oudtshoorn-munisipaliteit self toesig oor die noodwatermaatreëls en die koördinering van watertrokke om te verseker dat die beskikbare water so billik en doeltreffend moontlik aangewend word.
Allers verduidelik dat die watertrokke nie by Dysselsdorp volgemaak kan word nie, aangesien dit addissionele druk op Dysselsdorp se bestaande watertoevoer sou plaas. “Inwoners word dringend versoek om saam te werk onder hierdie uiters droë toestande en water spaarsamig te gebruik.”
In ‘n persverklaring wat op Vrydag, 19 Desember 2025, uitgereik is, het die Oudtshoorn-munisipaliteit se direkteur: Tegniese Dienste en Infrastruktuur, mnr Justin Lesch, gewaarsku dat die voortgesette verontagsaming van die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit se vlak 6-waterbeperkings in De Rust en Dysselsdorp die munisipaliteit sal noop om beurtwater vir dié twee gebiede ernstig te oorweeg.
“Die gemeenskap gee tans nie voldoende gehoor aan die ingestelde waterbeperkings nie. Waterverbruik sal drasties en onmiddellik verminder moet word om die instelling van beurtwater te voorkom.”
Hy het ‘n dringende beroep op inwoners gedoen om enige watergebruik wat buite die bepalings van die vlak 6-waterbeperkings plaasvind, onmiddellik by die munisipale beheerkamer aan te meld by 044 203 3000.
“Die munisipaliteit se wetstoepassingsdepartement sal voortaan meer indringende roetinebesoeke en inspeksies uitvoer. Toepaslike boetes van R5 000 vir die nie-nakoming van die waterbeperkingsreëls sal uitgereik word waar oortredings voorkom,” het mnr Lesch gewaarsku.
Waterbeperkings
- Huishoudings se watergebruik is beperk tot hoogstens 50 liter per persoon per dag en mag nie meer as 6 kiloliter per maand verbruik nie.
- Die was van motors met munisipale drinkwater is verbode.
- Die skoonmaak van geplaveide, beton- of teeroppervlaktes en strukture met munisipale drinkwater is verbode.
- Die gebruik van munisipale drinkwater vir enige konstruksie- of boudoeleindes, insluitend die skoonmaak van dakke met hoëdruk- of laevolume-reinigers, is verbode.
- Besproeiing van tuine met munisipale drinkwater is verbode.
- Plantkwekerye en motorwasserye moet vooraf skriftelike toestemming van die Tegniese Departement verkry om munisipale drinkwater vir besigheidsdoeleindes te gebruik. Alle aansoeke moet vergesel word van ’n volledige metodestaat wat aandui hoeveel water gebruik sal word en watter waterbesparingsmaatreëls ingestel sal word, met verwysing na beste praktyke en waterherwinning. Noodwatertariewe sal van toepassing wees.
- Die byvul of volmaak van alle privaat en openbare swembaddens met munisipale drinkwater is verbode.
- Fonteine en waterkenmerke moet afgeskakel bly.
- Besproeiing met water anders as drinkwater moet duidelik aan die voorkant van eiendomme aangedui word, byvoorbeeld: “BOORGATWATER.”
- Besproeiing van sportvelde, asook die natmaak van landbougrond, kampe, parke, grasperke en oop ruimtes met munisipale drinkwater is streng verbode.
Oortreding van bogenoemde beperkings kan lei tot ’n onmiddellike boete van R5 000.
Bron: Uitgereik deur die kantoor van die uitvoerende burgmeester, Johan Allers.
Vorige berigte:
- Warm in die Karoo, waterbronne geraak
- Waterkrisis in Kannaland
- Min reen voorspel watertekort in streek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hess
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’