OUDTSHOORN NUUS - Die brand wat Dinsdag by die Raubenheimerdam gewoed het, en teen Dinsdagaand onder beheer gebring is, het Woensdagoggend weer opgevlam.
Woensdagmiddag teen saktyd het daar 'n tweede brand uitgebreek wat heeltemal buite beheer geraak het. Teen Woensdagmiddag was die Oude Muragie-pad vanaf die Kango Bergoord tot by die aansluiting met die De Rust-pad gesluit nadat 'n tweede brand uitgebreek het.
Volgens Hannes Visser, burgemeester Chris Macpherson se woordvoerder, het die tweede brand ongeveer drie kilometer van die eerste brand uitgebreek.
"Daar is nie op hierdie stadium meer inligting nie, behalwe dat brandbestryders hard spook om die verspreiding van die brand te keer," het Visser gesê.
Die wind belemmer die pogings van die brandweer om die brand onder beheer te bring.
Die brand het groot gedeeltes van die munisipaliteitsgronde afgebrand. Dit het vermoedelik aan die oorkant van die dam naby die pad ontstaan. Die oorsaak van die brande is onbepaald en 'n ondersoek is geloods.
Teen druktyd was geen eiendomme in gevaar nie.
Adél Supra-Vertue, brandweerhoof, het Woensdagoggend gesê die dorp se drinkwater is tans nog nie besoedel nie.
Brandbestryders het Dinsdag hulle hande vol gehad om die brand by TBI Adventures af te keer omdat die vuur vandaar wyd in die berge en plase kan versprei. Die vuur is gelukkig suksesvol afgekeer en kon daar op ander areas gekonsentreer word.
Die westelike-flank na Kango-bergoord se kant toe was teen Woensdagoggend 'n bekommernis vir brandbestryders omdat die area nie met die Vergelegenbrand gebrand het nie en die plantegroei oud en ruig is.
"Daar word 50 km rukwinde voorspel, ons gaan alles in ons vermoë doen om die westelike-lank te beveilig," het Supra-Vertue Woensdagoggend gesê.
Die hitte-golf wat van Dinsdag af woed, dra ook by tot die verspreiding van die vuur. Cape Nature, die grondspan van Uniondale Working-on-Fire, Oudtshoorn-brandweerdienste en Garden Route Distriks-munisipaliteit is almal steeds op die toneel.
Vorige berigte:
- Wildfire Update: Rus-en-vrede, Oudtshoorn
- Opdatering van die brande
- Oude Muragie-pad gesluit vir brand
- Opvolg: Brand by Raubenheimerdam
- Raubenheimerdam-brand tans onder beheer
- Opdatering van brand by Raubenheimerdam
- Opdatering van brand by Raubenheimerdam
- Sterk wind bemoeilik brand by Raubenheimerdam
- Brand in Schoemanshoek
Mornay Thysse, senior-brandweerman en Adél Supra-Vertue, rampbestuurder en bestuurder by Oudtshoorn-brandweer. Foto: Sonia Wahl
Vlamme wat deur die Renosterbos by Raubenheimerdam woed - 29 November. Foto: Sonia Wahl
Die skade van Dinsdag se brand is duidelik sigbaar op die panorama-foto. Foto: Adél Supra-Vertue.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'