Update
OUDTSHOORN NUUS - 'n Man wat die ma van een van sy kinders so erg aangerand het dat sy vandag net in 'n rolstoel oor die weg kan kom, is in die Oudtshoorn-streekhof agt jaar gevangenisstraf opgelê nadat hy aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind is.
Enver Campher (38) het tereggestaan op aanklag van poging tot moord op Natasha Mei (34).
Die Oudtshoorn Courant het in 2017 berig dat Mei oor die naweek van 24 tot 29 Augustus 2017 in die huis van Campher se suster, Ashley Campher, aangehou en gemartel is.
Campher is egter deur streeklanddros Retha Pretorius, aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind. Die landdros het met vonnisoplegging gesê dit blyk dat hy nie die opset gehad het om Mei dood te maak nie.
Hy was egter, volgens sy eie getuienis verantwoordelik vir die beserings wat sy opgedoen het. Sy kan vandag feitlik niks vir haarself doen nie en is in 'n rolstoel gekluister.
Campher was volgens die landdros 'n swak getuie. Hy het aanvanklik getuig dat hy Mei drie keer met 'n lyfband geslaan, in die gesig geslaan en in haar sy geskop het, maar hy het later die lyfbandslanery ontken.
Hy het sy vorige saamleefmaat ook wreed aangerand en toe redelik lig daarvan afgekom.Verder toon hy geen berou vir sy dade nie.
Die staatsaanklaer, Willem Vister, het vir 'n vonnis van ten minste vyf jaar gevra omdat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis vir die wrede aanranding sal wees en die gemeenskap se vertroue in die howe sal versterk. "Dat iemand sy saamleefmaat so kan aanrand gaan my verstand te bowe. Dis regtig harteloos.
'n Vrou se lewe is onherroeplik verander en kan sy nie doen wat sy voorheen gedoen het nie" het Vister gesê.
Die hof het die byna twee jaar in aanhouding as enigste versagting van vonnis bevind en Campher tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar voorwaar-delik vir vyf jaar opgeskort is.
Die landdros het die familie van Natasha Mei meegedeel dat hulle die reg het om enige aansoek om parool teen te staan en vergaderings van die paroolraad kan bywoon.
Lees vorige artikels:
- Campher in Desember verder verhoor
- Campher in Desember verder verhoor
- Aanrandingsverhoor begin
- Vermeende vroueslaner se suster en kêrel in spervuur
- Campher se verhoor in Mei voortgesit
- Campher se verhoor in Mei voortgesit
- Saak teen Enver Campher na streekhof
- Suster van Enver Campher praat uit
- Opvolg: vrou gemartel en aangerand
- Opvolg: vrou aangerand en gemartel
- Poging tot moord-klag uitgestel
- Vrou vir dae gemartel en aangerand
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'