Update
OUDTSHOORN NUUS - Die suster van die man wat daarvan aangekla word dat hy die ma van sy kind gyselaar gehou en aangerand het, en haar vriend, moes Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof bontstaan om te verduidelik waarom hulle nie die erg beseerde Natasha Mei (31) gehelp het nie.
Streeklanddros Retha Pretorius wou van Ashley Campher en Hermanus Jullies, weet hoekom hulle absoluut niks gedoen het om Mei te hulp te snel nie.
Ashley se broer, Enver Campher, staan tereg op aanklag van menseroof en poging tot moord, na hy glo vir Mei vir drie dae in 'n slaapkamer in die huis van sy suster in Bongolethu toegesluit en aangerand het.
Ashley het getuig dat haar broer die huis se sleutels by hom in die kamer gehou het en sy nie kon uitkom om hulp te gaan soek nie. Sy het glo om hulp geroep, maar niemand het daarop gereageer nie.
"By ons in die straat is dit elkeen vir homself en God vir ons almal," het sy getuig.
Sy kon ook glo nie by 'n venster uitklim nie en kon nie verduidelik waarom sy nie saam met haar vriend, Hermanus Jullies, uit die huis gegaan het die tye wanneer hy gaan werk het nie.
Jullies het getuig dat hy nie by familiesake betrokke wou raak nie.
Op 'n vraag van die landdros waarom hy nie op pad na sy werk, by die polisiestasie aangegaan het nie, was sy antwoord dat hy bang was hy kom laat by sy werk. Hy het ook nie gedink dat dit so ernstig was nie, het hy getuig.
Volgens hom sou hy sy sleutel vir Ashley gegee het indien sy daarvoor sou vra, maar sy het nie.
Volgens Ashley het haar broer en Natasha die Vrydagaand voor haar huis gesit, maar sy het hulle weggejaag omdat sy hulle nie by haar huis gesoek het nie.
Hulle het egter die Saterdagaand teruggekom en omdat albei dronk was, het sy hulle toegelaat om te gaan slaap "totdat hulle nugter is".
Enver het egter die huis en die slaapkamer waarin hulle gaan lê het toegesluit.
Sy het daardie nag gehoor hoe Natasha om hulp roep, maar kon nie by hulle uitkom nie. Sy het ontken dat sy ook vir Natasha geslaan het.
"Die hele Oudtshoorn ken my. Ek sal nie so iets doen nie. Ek dien die Here," het sy getuig.
Natasha is na drie dae bevry toe gemeenskapslede die huis oopgebreek en haar nakend en vol bloed op die bed in die slaapkamer aangetref het.
Ashley en haar vriend is saam met Enver in hegtenis geneem, maar later weer vrygelaat.
Volgens Mei se ma, Fytjie Mei, het sy daarna talle operasies ondergaan en is nou in 'n rolstoel.
Sy kan met hulle gesels, maar glad nie onthou wat met haar gebeur het nie.
Die saak is vir verdere getuienis, van 'n dokter en die ondersoekbeampte, tot 30 Julie uitgestel.
Lees vorige artikels:
- Campher se verhoor in Mei voortgesit
- Campher se verhoor in Mei voortgesit
- Saak teen Enver Campher na streekhof
- Suster van Enver Campher praat uit
- Opvolg: vrou gemartel en aangerand
- Opvolg: vrou aangerand en gemartel
- Poging tot moord-klag uitgestel
- Vrou vir dae gemartel en aangerand
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'