OUDTSHOORN NUUS - Dit is die beskuldigde en sy suster wat haar so aangerand het.
So het Natasha Mei (31), die vrou wat glo vir drie dae aangehou, gemartel en wreed deur haar saamleefmaat aangerand is, in haar eerste verklaring aan die polisie gesê.
Die pa van Mei se kind, Enver Campher, staan tereg op aanklagte van menseroof en poging tot moord, maar pleit onskuldig.
Mei is Augustus verlede jaar in die slaapkamer van Enver se suster, Ashley Campher, toegesluit en wreed aangerand. Sy kan na die beweerde aanranding nie sinvol met familie of vriende kommunikeer nie en is nou in 'n rolstoel.
Volgens Mei se eerste verklaring aan die ondersoekbeampte, ao. Martin le Roux, het Campher en sy suster, Ashley, haar aangerand.
Die verhoor het verlede week begin. Le Roux het getuig dat Mei nie in detail kan vertel wat die betrokke naweek met haar gebeur het nie.
Volgens hom het hy haar die betrokke dag bebloed op 'n matras in die woning van Ashley Campher aangetref.
Bloedspatsels was oral op die vloer en muur en Natasha kon nie praat nie. "Haar gesig was erg geswel en haar oë toe," het le Roux getuig.
Geen wapen kon op die toneel gevind word nie.
"Daar was bloedspatsels oral op die vloer tot in die slaapkamer en die beskuldigde was toe reeds in 'n polisievangwa."
Volgens Le Roux kon hy eers drie of vier weke na die voorval 'n verklaring van die Natasha afneem.
"Sy het baie onsamehangend gepraat."
Campher se regshulpprokureur, Eugene Roos, het 'n verklaring aan die hof voorgehou waarin Mei sê dat sy deur die beskuldigde en sy suster aangerand is.
"Ek weet dat Enver en sy suster my so geslaan het. Ek weet nie hoekom hulle my so geslaan het nie," lui 'n deel uit die verklaring.
Volgens Le Roux was 'n familielid van Natasha, Emmerentia van Hansen, teenwoordig toe Mei die verklaring gemaak het.
Natasha Mei word deur paramedici na die ambulans geneem. Foto: Skermgreep van video.
Roos het egter kapsie teen die inhandiging van die verklaring as bewysstuk gemaak omdat die nie beëdig is nie.
Van Hansen het getuig dat sy Mei 'n dag voor die beweerde voorval, vir die laaste keer gesien het en sy daardie dag "reg" was. "Sy kon loop en normaal praat."
Nadat sy uit die hospitaal ontslaan is kon sy nie op haar eie loop nie en ook nie reg praat nie. "Ons moet haar meeste van die tyd help en as sy alleen wil loop moet sy aan iets vashou. Sy is vandag met 'n rolstoel by die hof. Sy wil nie praat oor wat gebeur het nie en daar is nie veel verbetering in haar toestand vanaf sy uit die hospitaal ontslaan is nie."
Volgens Van Hansen was haar vingers stukkend en daar was 'n gat in haar kop. Mei het haar toe meegedeel dat Enver haar gebyt het.
Volgens Van Hansen het Mei epileptiese aanvalle gekry en dat Enver daarvan bewus was.
Die twee se baba is van hulle weggeneem omdat hulle glo gedurig baklei.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak voor die getuienis van 'n dokter wat Mei na die voorval ondersoek het, op versoek van die staatsaanklaer, Hyron Goulding, uitgestel vir die mediese rekord van Mei voor die beweerde aanranding.
Die saak word op 11 September voortgesit.
Lees vorige artikels:
- Vermeende vroueslaner se suster en kêrel in spervuur
- Campher se verhoor in Mei voortgesit
- Campher se verhoor in Mei voortgesit
- Saak teen Enver Campher na streekhof
- Suster van Enver Campher praat uit
- Opvolg: vrou gemartel en aangerand
- Opvolg: vrou aangerand en gemartel
- Poging tot moord-klag uitgestel
- Vrou vir dae gemartel en aangerand
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'