Update
OUDTSHOORN NUUS - Enver Campher, die man wat van poging tot moord op Natasha Mei aangekla word, het Donderdag-oggend voor 'n stampvol hof verskyn.
Die ondersteuners was daar ten bate van Mei en ook om hul afkeur in geweld teen vroue en kinders te wys.
Die saak is tot 14 September vir 'n formele borgtogaansoek uitgestel.
Die Oudtshoorn Courant het verlede week berig dat Mei vir dae in 'n huis in Bongolethu aangehou, gemartel en aangerand is.
Woedende inwoners het die deur van die huis afgebreek om Mei te red. Dit blyk dat Campher se suster en haar man ook in die huis was terwyl die aanranding plaasgevind het.
Die polisie moes ingryp om te verhoed die woedende inwoners die drie aanrand. Inwoners het gedreig dat hulle nie sal toelaat dat die huisbewoners wat bewus was van die aanranding, weer na die huis terugkeer nie.
Elmarencia van Hansen, Mei se niggie, het haar in die huis gaan haal. Sy het vertel dat alles in die huis met bloed besmeer was.
"Die sementvloere was met bloed bevlek. Die mure was ook vol bloed. Haar bebloede hande se merke was teen die mure en jy kon sien hoe sy op die vloer gekruip het en teen die mure vir ondersteuning gedruk het," het sy gesê.
Volgens Van Hansen het hulle Mei bebloed en kaal op 'n bed in 'n kamer aangetref. Behalwe vir die ernstige beserings was van haar tande glo ook uitgeslaan.
Lees 'n vorige artikel: Vrou vir dae gemartel en aangerand
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'