OUDTSHOORN NUUS - Die St. Saviourstraat-parkie in Oudtshoorn- Noord bly 'n voortdurende bron van frustrasie vir inwoners en 'n seeroog vir verbygangers.
Oudtshoorn Courant het klagtes dat mense in 'n stormwaterpyp onder die parkie bly en dit ook vir ablusie gebruik, bevestig. Tydens 'n besoek aan die parkie was niemand sigbaar nie, maar klere, komberse en ander persoonlike besittings is in die pyp gevind.
Inwoners wat in die omgewing woon, sê hulle doen reeds maande lank 'n beroep op owerhede om vermeende dwelmgebruikers en ander individue wat onwettig in die parkie vertoef, te verwyder.
Die koerant het ook bevestig dat 'n soortgelyke situasie in 'n stormwaterpyp in Kerkstraat besig is om te ontwikkel.
Departement van maatskaplike ontwikkeling reageer
'n Navraag oor hawelose volwassenes en kinders is aan die provinsiale minister van maatskaplike ontwikkelng, Jaco Londt, gestuur. Volgens sy mediabeampte, Monique Mortlock, bepaal die kinderwet duidelik wat beskou word as 'n kind wat op straat woon en wat die optredes deur die departement van maatskaplike ontwikkeling (DMO) en aangewese kinderbeskermingsorganisasies behels.
"Die wet bepaal ook of 'n kind sorg en beskerming benodig. 'n Maatskaplike werker se ondersoek sal vasstel of 'n kind op straat woon, werk of bedel vir 'n bestaan," het sy gesê.
Wat hawelose volwassenes betref, sê Mortlock is die departement tans besig om 'n wetlike raamwerk te ontwikkel wat die verantwoordelikhede van owerhede in sulke gevalle sal uiteensit.
Volgens haar het Oudtshoorn se departement van maatskaplike dienste 'n goeie samewerkingsooreenkoms met plaaslike owerhede om sosio-ekonomies kwessies aan te spreek.
"Die personeel woon maandeliks verga-derings van die Oudtshoorn-munisipaliteit en die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) by, en was hulle reeds by verskeie uitreikaksies betrokke. Ons mandaat, ingevolge die Kinderwet, is die beskerming van kwesbare kinders.
"Ons het egter nie 'n mandaat om volwassenes wat op straat woon te verwyder of in alternatiewe akkommodasie te plaas nie," het Mortlock gesê.
Sy het inwoners aangemoedig om enige gevalle van kinderverwaarlosing, -misbruik of bedel op straat onmiddellik by die toepaslike owerhede aan te meld sodat dit spoedig aangespreek kan word.
Mortlock het bygevoeg dat sosio-ekonomiese uitdagings slegs effektief aangespreek kan word deur samewerking tussen alle regeringsfere, departemente, organisasies en gemeenskappe. Sy verwys na suksesvolle gemeenskapsgebaseerde programme, soos die departement se ambassadeursprogram vir geslagsgebaseerde geweld, waar vrywilligers saam met munisipaliteite, die polisie en nie-regeringsorganisasies werk om bewustheid en ondersteuning te bevorder.
Navrae is aan die Oudtshoorn-munisipaliteit gerig ten opsigte van die situasie in die St Saviourtraat-parkie, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
Vorige berigte:
- Straatkind veroorsaak chaos in middedorp
- Alle rolspelers moet om die tafel sit
- Inwoners keelvol vir sosiale probleme in Oudtshoorn
- Wie sit kos op die tafel?
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’