Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die dames van die Oudtshoorn ReWOLusie, ’n projek van die Klein Karoo Kunstefees, het die afgelope naweek weer deelgeneem aan die Klein Karoo Klassique.
Die musiekfees het op Vrydag 8 Augustus begin, waar die groep uitstaande kreatiwiteit getoon het deur middel van gehekelde vetplante wat die unieke flora van die Klein-Karoo verteenwoordig.
’n Lewensgroot tjello, wat die tema van klassieke musiek simboliseer, het die uitstalling verder verryk.
Só word die Oudtshoorn ReWOLusie beskryf
’n Gemeenskapsprojek wat sedert die KKNK in 2019 in verskeie vorme ’n reuse--impak op gemeenskappe regoor die Suid-Kaap maak. Met meer as 80 deelnemers, verfraai hulle vlytige vingers nie net jaarliks dele van die KKNK nie, hulle maak ook ’n ruim en warm verskil in die harte van talle behoeftiges in die gemeenskap.
Die eerste Oudtshoorn ReWOLusie was voorwaar ’n fees vir die oog, met kleurvolle serpe wat om bome gedrapeer is en verskeie slagspreuke en versierings soos harte en sterre wat alles gebrei of gehekel is.
FOTOGALERY: Unieke vetplante staan uit by Klassique
Oudtshoorn se see van kleur het oornag gestalte gekry te danke aan die 'woltannies' wat die strate na sononder ingevaar het met lere, toue, gom en natuurlik meters en meters brei- en hekelwerk. Brei saam, of jy nou ’n ywerige en gesoute hekelaar is, of graag wil leer en saamkuier, moenie wag nie.
Word vandag nog deel van die Oudtshoorn ReWOLusie. Enigiemand kan by die Oudtshoorn ReWOLusie betrokke raak, selfs al kan jy nie brei nie.
Die span het deurentyd wol en stopsels nodig en enige skenkings, maak nie saak hoe gering nie, dra by tot die voortbestaan van dié gemeenskapsprojek.
Skenkings in die vorm van wol, stopsel, breinaalde en kontant is baie welkom.
Vorige berigte:
- ReWOLusie-dames hekel vir ABSA
- Calitzdorp vermiljoen koppies uitgebeeld
- ReWOLusie en Rotariers leef Ubuntu uit
- Kombers Rewolusie
- Op jou merke gereed hekel!
- Karen Zoid veil ReWOLusie-komberse vir liefdadigheid
- Nasionale voetspoor vir ReWOLusie
- Kry jou ReWOLusie boek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’