OUDTSHOORN NUUS - ReWOLusie se Hekel-saam-veldtog het afgeskop met die bekendstelling van die eerste twee dele van 'n hekelpatroon vir dié projek se vlagskipkombers.
Volgens Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK, is die patroon van die pragtige kombers wat deur deelnemers geskep word deur die Oudtshoorniet Bets Wilkinson ontwerp.
“Ons stel tot einde Julie oor 13 weke elke Maandag ’n stukkie van dié kombers se patroon op ons webblad vry. Aan die einde van die 13 weke het elke deelnemer ’n volledige patroon. Die eerste twee dele van die patroon is reeds beskikbaar. Daar is inligting oor alles wat jy moet weet en bymekaarmaak voordat jy begin, kleurkombinasie-voorstelle, video’s van al die steke wat jy gaan gebruik, wenke, en natuurlik die patroon met foto’s,” verduidelik hy.
Madeleine Miles, projekleier van ReWOLusie, sê deelnemers moenie bang wees om betrokke te raak nie. “Ons gaan jou help om deel te neem. Beginners word stap-vir-stap met soveel moontlik bronne gehelp. Ervare hekelaars se kreatiwiteit kan vlerke kry. Hou in gedagte dat hierdie die eerste projek van sy soort is en ons ook baie gaan leer. Nie een van ons is professionele patroonskrywers nie. As ons iets iewers gemis het, stel ons dadelik in kennis. Daar gaan ook elke week lekker op sosiale media-platforms gesels word, waar ons vir mekaar raad kan gee en foto’s van ons vordering plaas,” sê Miles.
Om deel van dié nasionale hekelveldtog te wees en saam met deelnemers regoor die land ’n verskil te maak, hekel die kombers volgens die patroon wat verskaf word en skenk dit aan die KKNK om op te veil op Nasionale Vrouedag op 9 Augustus. Fondse word aangewend vir projekte wat bemagtiging van vroue in Oudtshoorn en die vaardigheid van hekel voortbou.
As jy nie die tyd of geduld het om die kombers te hekel nie, oorweeg ’n skenking van R1 800 wat iemand sal help om die pragtige kombers te hekel. “Of skenk wol om ons woltannies in staat te stel om die gemeenskap te help,” sê Theart.
Almal word uitgenooi om deel te word van die ReWOLusie-familie. ReWOLusie is weer een van die vennote van die filantroop Carolyn Steyn se veldtog 67 Blankets for Madiba en ondersteuners wat eerder wil brei kan met geskenkte wol van Absa deel wees van dié spesiale inisiatief.
Die eerste twee dele van die patroon kan by www.kknk.co.za/afr/rewolusie afgelaai word.
Deelnemers moet vir die nasionale Hekel-saam-veldtog registreer. Dit kan by Daleen Witbooi gedoen word by 044 203 8600, via e-pos na info@kunste.org.za, of op die KKNK se webblad via www.facebook.com/rewolusie
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'