OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se gemeenskapsinisiatief, ReWOLusie, gaan van krag tot krag, met twee opwindende vertakkings wat vanjaar aan dié projek vlerke gee.
Benewens die bekende plaaslike hekel-en-brei-projek, kry ReWOLusie vanjaar ’n nasionale voetspoor danksy ’n hekel-saam-veldtog.
ReWOLusie is boonop weer een van die vennote van die filantroop Carolyn Steyn se veldtog, 67 Blankets for Madiba. Die hele Suid-Afrika kan nou deelneem, met meer komberse as ooit wat warmte kan gee aan behoeftiges in die koue wintermaande wat kom.
“Die KKNK is trots op die vennootskap met ReWOLusie as een van ons vlagskipprojekte,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
“En dit is besonder opwindend dat die projek nie net op Oudtshoorn ’n verskil maak nie, maar ook nou nasionaal mense betrek.”
Volgens Madeleine Miles, die stigter en projekleier van die ReWOLusie-projek, is daar vanjaar twee maniere om by dié hekel-en-brei-projek betrokke te raak. “Oudtshoorniete kan eerstens, soos in 2020, komberse hekel of brei wat aan behoeftiges in die plaaslike gemeenskap geskenk sal word. Tweedens is ons baie opgewonde dat ReWOLusie vanjaar ’n nasionale voetspoor kry met die hekel-saam-inisiatief,” sê Miles. ”
Enigiemand kan deelneem. Voltooide komberse kan by die KKNK-kantoor in Jan van Riebeeckweg 217, Oudtshoorn, afgelewer word, vanwaar dit aan behoeftiges versprei sal word. Danksy skenkings van Absa en die Oudtshoorn besigheidskamer is 'n beperkte hoeveelheid wol by die KKNK-kantoor vir mense wat nie genoeg wol het nie.
Die Oudtshoorniet Bets Wilkinson, het ’n patroon ontwerp vir hekelaars regoor die land. Van Maandag 3 Mei sal die KKNK oor 13 weke elke Maandag ’n stukkie van dié kombers se patroon en ’n instruksievideo vrystel op die webblad (www.kknk.co.za, klik op PROJEKTE en kies dan ReWOLusie; volg ook die KKNK op Facebook.com/KKNK.).
“Aan die einde van die 13 weke sal elke deelnemer ’n volledige kombers hê,” sê Wilkinson. “Deelnemers kan hul komberse skenk vir ’n liefdadigheidsveiling op Nasionale Vrouedag, 9 Augustus. Alle geld wat so ingesamel word, sal gebruik word vir bemagtigingsprojekte onder vroue in Oudtshoorn.”
As jy nie self wil of kan hekel of brei nie, oorweeg ’n skenking van R1 800 - dié geld sal gebruik word om die nodige wol en ander hulpmiddele te koop vir iemand wat dit nie self kan bekostig nie, maar steeds graag wil meedoen met die idee dat dit jóú kombers word wanneer dit voltooi is. Of, as jy ongebruikte wol het, skenk dit - elke bol wol tel.
As jy aan vanjaar se ReWOLusie-projek wil deelneem, kontak Daleen Witbooi by 044 203 8600, of stuur ’n e-pos na info@kunste.org.za. Vir die nasionale hekel-saam-inisiatief is registrasie verpligtend.
In 2020 het die reWOLusie-projek bykans 2 000 komberse aan organisasies en behoeftiges in Oudtshoorn en omstreke uitgedeel, waaronder Helen Bellinghanhof, Coronation Memorial, Eljada Nasorg, ACVV De Rust, die Oudtshoorn-hospitaal, die Toekomsrus-kliniek en kerke op die dorp.
Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasonale Kunstefees, wys sy eerste breisteke tydens Saterdag se reWOLusie-funksie.
Madelein Miles, inisieerder van Oudtshoorn reWOLuise, met een van die kunswerke wat vir die projek gehekel is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'