OUDTSHOORN NUUS - Dames verbonde aan die ReWOLusie het 45 komberse gehekel vir Absa, die KKNK se hoofborg.
Die bank het in die begin van Augustus wol aan die groep geskenk, wat deur die geesdriftige groep ReWOLusie-wollers gebruik is om enkelbedkomberse te brei en te hekel.
Hierdie komberse word uitgedeel as deel van Absa se verbintenis tot die bank se korporatiewe maatskaplike belegging (KMI)-inisiatiewe. Die Force for Good-span gaan die komberse uitdeel.
Hierdie projek se hoogtepunt het op Vrydag 6 Desember by Die Neelsie plaasgevind, met 'n spesiale onthaal deur die KKNK vir al die ReWOLusie-deelnemers, om die voltooiing van die komberse en almal se kreatiewe en harde werk as deel van dié projek, te vier.
Só word die Oudtshoorn ReWOLusie beskryf
'n Gemeenskapsprojek wat sedert die KKNK in 2019 in verskeie vorme 'n reuse-impak op gemeenskappe regoor die Suid-Kaap maak. Met meer as 80 deelnemers, verfraai hulle vlytige vingers nie net jaarliks dele van die KKNK nie, hulle maak ook ’n ruim en warm verskil in die harte van talle behoeftiges in die gemeenskap.
Die eerste Oudtshoorn ReWOLusie was voorwaar 'n fees vir die oog, met kleurvolle serpe wat om bome gedrapeer is en verskeie slagspreuke en versierings soos harte en sterre wat alles gebrei of gehekel is.
Oudtshoorn se see van kleur het oornag gestalte gekry te danke aan die 'woltannies' wat die strate na sononder ingevaar het met lere, toue, gom en natuurlik meters en meters brei- en hekelwerk.
Brei saam
Of jy nou 'n ywerige en gesoute hekelaar is, of graag wil leer en saamkuier, moenie wag nie. Word vandag nog deel van die Oudtshoorn ReWOLusie.
Enigiemand kan by die Oudtshoorn ReWOLusie betrokke raak, selfs al kan jy nie brei nie. Die span het deurentyd wol en stopsels nodig en enige skenkings, maak nie saak hoe gering nie, dra by tot die voortbestaan van dié gemeenskapsprojek.
Skenkings in die vorm van wol, stopsels, breinaalde en kontant is baie welkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’