OUDTSHOORN NUUS - Langs die Kruisrivierpad naby Calitzdorp pryk ’n ry kenmerkende vermiljoen koppies, algemeen bekend as die Rooiberge, wat vanjaar deur die hekelaars van die KKNK se ReWOLusie-projek in ’n asemrowende kunswerk omskep is.
Hierdie bydrae tot die kunstefees het die bekende landskapbaken getransformeer in ’n monumentale abstrakte tekstielinstallasie waarin ’n mens kan wegraak.
Die indrukwekkende werk, wat uit 4 800 gehekelde driehoeke bestaan en meer as ses meter lank is, staan in treffende verhouding tot die berge en die uitgestrekte lug van die Klein-Karoo.
Só word die Oudtshoorn ReWOLusie beskryf
’n Gemeenskapsprojek wat sedert die KKNK in 2019 in verskeie vorme ’n reuse-impak op gemeenskappe regoor die Suid-Kaap maak.
Met meer as 80 deelnemers, verfraai hulle vlytige vingers nie net jaarliks dele van die KKNK nie, hulle maak ook ’n ruim en warm verskil in die harte van talle behoeftiges in die gemeenskap.
Die eerste Oudtshoorn ReWOLusie was voorwaar ’n fees vir die oog, met kleurvolle serpe wat om bome gedrapeer is en verskeie slagspreuke en versierings soos harte en sterre wat alles gebrei of gehekel is.
Oudtshoorn se see van kleur het oornag gestalte gekry te danke aan die 'woltannies' wat die strate na sononder ingevaar het met lere, toue, gom en natuurlik meters en meters brei- en hekelwerk.
Brei saam
Of jy nou ’n ywerige en gesoute hekelaar is, of graag wil leer en saamkuier, moenie wag nie. Word vandag nog deel van die Oudtshoorn ReWOLusie.
Enigiemand kan by die Oudtshoorn ReWOLusie betrokke raak, selfs al kan jy nie brei nie.
Die span het deurentyd wol en stopsels nodig en enige skenkings, maak nie saak hoe gering nie, dra by tot die voortbestaan van dié gemeenskapsprojek.
Skenkings in die vorm van wol, stopsels, breinaalde en kontant is baie welkom.
Vorige artikels
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’