Update
OUDTSHOORN NUUS - Dag twee van die Preston Titus-moordverhoor het vandag in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn begin.
Die patoloog, Dr. Mariette Hurst, het getuig oor die beserings wat Preston tydens sy wrede moord opgedoen het.
Volgens haar was meeste van die beserings aan sy gesig en is sy kakebeen ook gekraak. Hy het verskeie steekwonde agter sy lyf sowel as voor gehad en ‘n diep snywond aan sy nek.
Die staatsaanklaer, Chris van de Vijver, het dit aan haar gestel dat daar ‘n Okapi-mes en ‘n hamer langs die Mosselbaai-pad gevind is wat moontlik die moordwapens kon wees. Sy het erken dat die beserings wat Preston opgedoen het moontlik met die wapens toegedien kon word.
Volgens haar getuienis is hy aan bloedverlies dood.
Sy het ook gesê dat daar moontlike selfverdedigingswonde aan sy knieë en voorarm was.
Van de Vijver het haar gevra of daar toetse gedoen is wat sal wys of daar enige middels in Preston se bloed gevind is. Volgens hom is daar bewerings dat iemand slaappille en remvloeistof in Preston se kos sou gooi die aand van die moord.
Volgens haar word sulke toetse alleenlik gedoen wanneer daar iets vreemd in die maag gevind is, want die departement waar dié toetse in die Wes-Kaap gedoen word is agterstallig.
James Dido, ‘n goeie vriend en kollega van Preston, was die tweede getuie van die dag.
Volgens hom woon hy twee huise van die Titusse se woning in die weermagkamp en was hy van die eerstes op die toneel die aand van die moord.
Hy het getuig dat hy na 23:00 op 1 Desember deur sy seun geroep is en aangesê is om dadelik na Preston se huis te gaan.
Volgens hom was daar ‘n sterk pepersproei reuk in die huis en moes hy eers weer ingaan voor hy na Preston se kamer kon gaan.
Hy het getuig dat daar baie bloed op die toneel was en dat Preston op sy maag op die grond tussen twee enkelbeddens gelê het.
Volgens Dido het Preston een selfoon in sy hand gehad en een het op die grond gelê. Hy het na die buurman gegaan om nooddienste, polisie en die weermagoffisiere te bel omdat hy nie sy foon by hom gehad het nie.
Volgens hom was daar geen gebreekte ruite nie en was daar ook nie items in die huis wat uit plek uit was nie.
Hy het ook getuig dat die Titusse as ‘n gelukkige gesin voorgekom het en dat Preston vir sy vrou en kinders geleef het.
Hy het gesê dat hy wel bewus is van die feit dat Preston en sy vrou nie ‘n kamer gedeel het nie omdat Preston gesnork het en omdat die ander kamers volgens Preston te warm was.
Die hof sal na middagete vanmiddag weer met ‘n volgende getuie voortgaan.
Lees vorige artikels:
- Weermagmoord-verhoor: Dag 2
- Opvolg: Weermagmoord-verhoor
- Weermagmoord: Saak begin amptelik
- Weermagmoord: Verdagtes vandag in hof
- Maggie titus se prokureur onttrek
- Voorverhoor in Titus-Moord uitgestel
- Weermagmoord na hooggeregshof
- Hooggeregshofdatums vir soldaat se moordverdagtes
- Weermagmoord: Saak uitgestel
- Weermagmoord-saak uitgestel
- Weermagmoord-saak uitgestel
- Weermagmoord: MJ borgtog geweier
- Maggie en medebeskuldigdes in hof
- Weermagmoord-verdagte laat vaar borgtogaansoek
- Weermagmoord: Borgaansoek van MJ uitgestel
- Weermagmoord: Borgtogaansoek uitgestel
- Weermagmoord: Vyfde verdagte vas
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'