OUDTSHOORN NUUS - Die vier verdagtes wat van moord op stafsersant Preston Titus aangekla word, sal van 25 Februarie tot 22 Maart 2019 in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn verhoor word.
Die datums is vanoggend tydens die vier se vlugtige verskyning in die Oudtshoorn-landdroshof deur die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, aan die hof oorgedra.
Titus se weduwee, ANC-raadslid Magdaleen Titus, Natasha Stuurman, Justice Mooi en Masimthembe (MJ) January, word van moord met voorbedagte rade aangekla.
Borgtog is vroeër vanjaar aan Titus, Stuurman en January toegestaan terwyl Mooi steeds in aanhouding bly.
Weyers het die hof meegedeel dat 'n voorverhoor op 15 November in George sal plaasvind ter voorbereiding van die verhoor volgende jaar.
Preston Titus is die aand van 4 Desember 2017 in sy slaapkamer in die weermagbasis op Oudtshoorn vermoor.
Familielede van die vermoorde Titus, wat spesiaal vanaf Worcester gekom het vir Maandag se hofverrigtinge, sowel as hofgangers wat hulle ondersteun, het hul tevredenheid met die verloop van sake uitgespreek.
So ook Princess Klip, wie se seun Mcebesi 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en reeds vyftien jaar tronkstraf opgelê is.
"Ons is baie tevrede dat die saak in die hooggeregshof verhoor sal word," het Titus se suster, Lusinda Wildschut na die hofverrigtinge gesê.
Landdros Roelf Konstabel het die twee vroue en January se borgtog en borgtogvoorwaardes verleng en weer gewaarsku dat indien enige van die voorwaardes nie nagekom word nie, hulle in hegtenis geneem en in aanhouding sal bly totdat die saak afgehandel is.
Familielede van wyle Preston Titus was Maandag vanuit Worcester by die hof op Oudtshoorn.Van links is: Angelo Wildschut (swaer), Theodore Titus (oudste broer), Gloria Solomons (susterskind) en Lusinda Wildschut (suster). Foto's Garnett Wicomb.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'