Update
OUDTSHOORN NUUS - Bykans 30 jaar na Micheal Lucas, 'n boorling van Oudtshoorn, die doodstraf in die Pretoria Sentraal Gevangenis opgelê en gehang is, is sy oorskot aan sy familie oorhandig.
Lucas se moeder, Makhata Ncwango, sy twee susters, Wendy Ncwango en Bulelwa Ncwango, asook sy dogter, Pamela Tu, het die kis met sy oorskot Dinsdag tydens 'n spesiale oorhandigingseremonie in die banketsaal van adv. Michael Masutha, nasionale minister van justisie en korrektiewe dienste, ontvang.
Lucas is op 21 Augustus 1987 in die Kaapse Hooggeregshof deur regter Williamson aan die moord op 'n buskaartjie-inspekteur, William Blaauw, skuldig bevind.
Williamson het Lucas ter dood veroordeel en op 25 Maart 1988 is hy op 21-jarige ouderdom gehang.
Hy is saam met ses ander ter dood veroordeeldes gehang en dieselfde dag in armlastige grafte in Mamelodi, Pretoria, begrawe.
Die wet het bepaal dat die oorskot die eiendom van die staat bly en die familie nie die begrafnisse mag bywoon nie.
Die families het ook nie geweet waar hul geliefdes begrawe is nie.
Lucas was een van 18 UDF-ondersteuners wat tussen 1986 en 1989 galg toe gestuur is.
Nog drie ander Oudtshoorn UDF-ondersteuners, Dickson Madikane, Patrick Manginda en Desmond Majola is ook in dié tydperk ter dood veroordeel, maar begenadig en hul doodsvonnis is in langtermyngevangenisstraf omskep.
Adv. Michael Masutha, nasionale minister van justisie en korrektiewe dienste, aan die woord.
Lucas se oorskot is op 31 Mei vanjaar opgegrawe en Dinsdag is 'n kis met sy oorskot deur ANC militêre veterane op dodemars in 'n volgepakte banketsaal ingedra.
Verskeie politieke leiers en vegters teen apartheid het die seremonie bygewoon. Oudtshoorn se burgemeester, Colan Sylvester, het dit as 'n belangrike dag in die geskiedenis van Michael Lucas se familie, vriende en die gemeenskap van Oudtshoorn beskryf.
"As familie het julle nou die geleentheid om sy lewe weer te vier en om 'n tragiese episode finaal agter die rug te kry. Hy mag miskien nie meer met julle wees nie, maar hy is nie ver weg van julle nie."
'n ANC provinsiale bestuurslid, Lionel Adendorf, het aan die gaste gesê: "Micheal het vir 'n beter lewe vir ons almal, die hoogste prys betaal. Hy is deur die appartheidstaat vermoor."
Adendorf en vriende van Lucas het sy dood as 'n apartheidsjaredaad beskryf en volgehou dat hy onskuldig galg toe gestuur is.
Lucas was 'n leerder van Fezekile Sekondêre Skool, Oudtshoorn. Hy het reeds op skool as 'n politieke aktivis in die stryd teen apartheid begin veg.
Adv. Masutha het met die oorhandiging van die oorskot, gesê: "Sommige van ons hou nie van geweld nie, maar ons word tot geweld geforseer. Dit is die wit dominansie wat ons geliefdes lafhartig elimineer."
Pamela Tu, Michael Lucas se dogter tydens die oorhandiging van haar pa se oorskot.
Hy het sy hoop uitgespreek dat Lucas se familie nou berusting sal vind.
Sy amptelike herbegrafnis vind Saterdag 4 November om 12:00 vanuit die Rooms Katolieke Kerk, Bongolethu, plaas.
Dit sal om 10:00 voorafgegaan word deur 'n roudiens in die Bongolethu-gemeenskapsaal.
Lees 'n vorige artikel: Oudtshoorniet herbegrawe na hangdood
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'