Update
OUDTSHOORN NUUS - Die hofverskyning van Sydney Berry (23) was Maandag een van talle hofsake wat uitgestel moes word omdat die hof gesluit is nadat 'n Covid-19-voorval aangemeld is.
Berry het op 26 November vir die eerste keer in die hof verskyn op aanklag van strafbare manslag alternatiewelik roekelose of nalatige bestuur, en versuim om by 'n ongelukstoneel hulp te verleen.
Berry was die bestuurder van die wit BMW wat in die vroeë oggendure van 22 September 2019 op die grottepad deur 'n plaasheining gery en op die passasierskant in 'n waterkanaal beland het.
'n Matrikulant van Oudtshoorn, Marilize Nortier (18), het op die toneel in die motorwrak verdrink.
Die saak sou Maandag voorkom vir instruksies aan die partye en die beskikbaarstelling van die dossier, maar daar is na 'n vergadering van hofamptenare besluit om die hofgebou te sluit nadat 'n Covid-19-geval voorgekom het.
Berry en sy regsverteenwoordiger, Bulelani Jerome Bans van Dercksens Prokureurs Ingelyf in Knysna en George, moes soos talle ander mense wat in die onderskeie howe sou verskyn, geduldig buite die hofgebou wag totdat uitsteldatums aan elkeen gegee is. Berry se volgende hofverskyning sal op 29 Januarie 2021 wees.
Bans het tydens Berry se eerste verskyning 'n versoek aan die media gerig om nie foto's van sy kliënt in die hof te neem nie en ook nie foto's wat op sosiale media is, te gebruik nie.
Hy het sy misnoeë te kenne gegee dat 'n nasionale publikasies reeds voor sy kliënt se hofverskyning sy naam bekend gemaak het en foto's vanaf sy Facebook-blad gepubliseer het.
Bans het gister ingestem dat die media 'n foto van hom en sy kliënt buite die hof neem.
Vorige artikels:
- Nortier-saak uitgestel
- Bestuurder uiteindelik in hof
- Berry verskyn in hof
- Saak teen bestuurder begin
- Dossier nog nie afgelewer nie
- DOV vervolg na 'n jaar
- Bestuurder word uiteindelik vervolg
- Troosdiens vir botsingslagoffer
- Jong botsingslagoffer het verdrink
- Vroeë oggend grotte-pad ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'