Update
OUDTSHOORN NUUS - Allen Paulse, munisipale bestuurder van Oudtshoorn, het Maandagaand sy bedanking aan die burgemeester, Chris MacPherson gestuur.
MacPherson het Dinsdagoggend bevestig dat Paulse bedank het en dat die bedanking onmiddellik van krag is.
Die bedanking volg nadat Paulse reeds sedert die begin van die jaar met verlof is, hangende 'n ondersoek van klagtes wat deur die vorige burgemeester, Colan Sylvester en enkele DA-raadslede teen Paulse aanhangig gemaak is. Die kern van die kwessie is die Webber Wentzel-verslag waarin Paulse en ander amptenare genoem word. Die verslag is deur die regsfirma Webber Wentzel opgestel en die aanbeveling was dat die raad die klagtes vervat in die verslag moet ondersoek.
Paulse is verlede maand tydelik van sy pligte vrygestel terwyl voorbereidings getref word vir sy tugverhoor aan die hand van die klagtes.
Die eerste stap van die proses was die samestelling van 'n paneel wat die verhoor sou behartig. Volgens Paulse word so 'n paneel deur die burgemeester saamgestel en dit is die samestelling van hierdie paneel wat Paulse Maandag genoop het om te bedank.
In 'n telefoniese gesprek Dinsdag met Paulse, het hy gesê die samestelling van die paneel wat hom moet verhoor is die hoofrede vir sy bedanking. Volgens hom het hy inligting bekom dat die koalisie-vennote van die DA 'n sleutelrol in die samestelling van die paneel gehad het.
Oudtshoorn Courant het verlede maand berig dat die DA in 'n koalisie met Icosa en Sarco gegaan het, nadat drie DA-raadslede dwarsgetrek het, en nie by koukusbesluite gehou het nie. Daardie drie raadslede het intussen bedank.
Volgens Paulse was hy as munisipale bestuurder gereeld in konflik met die koalisie-vennote asook met sommige DA-raadslede wat by tweespalt in die DA betrokke was. "Volgens inligting wat ek ontvang het, is die paneel wat my moet verhoor tot 'n groot mate saamgestel deur die partye met wie ek in konflik was, en ek is oortuig dat my verhoor nie regverdig en objektief sal wees as hulle besluit oor die samestelling van die paneel nie. Ek moes dus besluit of ek kans sien vir 'n verhoor wat volgens my inligting eensydig gaan wees, of om te bedank."
Hy het nie uitgebrei oor die inligting wat hy ontvang het nie. Die Webber Wentzel-verslag is ook deel van 'n ondersoek wat deur die valke gedoen word, maar Paulse sê dat hy daardie ondersoek vertrou en reeds op verskeie kwessies aan die Valke antwoorde gegee het. "Ek onderwerp my aan die ondersoek van die Valke, want ek het vertroue dat daardie proses die korrekte prosedures volg," het Paulse Dinsdagoggend gesê.
MacPherson is gevra of hy vir kommentaar genader kan word, maar hy het gesê dat daar regsaspekte is wat ter sprake kom en dat daar eers met regslui wat by die klagstaat betrokke is, gekonsulteer moet word voordat hy kan kommentaar lewer.
Verwante artikels:
- Munisipale bestuurder bedank
- Dissiplinêre proses begin
- Waarnemende munisipale bestuurder aangewys
- Afriforum vra oor grond en verslag
- Da's nie antwoorde
- Eenparig of nie eenparig nie?
- Besluit oor munisipale bestuurder nie eenparig nie
- Munisipale bestuurder op verpligte verlof
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'